Hoe om… jóú lewe te aanvaar

553

Elke vrou word groot met ’n prentjie van hoe haar lewe eendag veronderstel is om te lyk. Daarom is dit moeilik om met jou realiteit vrede te maak. Met genade kan jy, sê ANNELIZE BRITS.

Die meeste van ons word met allerlei vooropgestelde idees groot. Ons ouers of die wêreld het vir ons besluit hoe ons toekoms sal lyk. Die samelewing het ons in ’n boksie gesit en ons droom oor  ’n paadjie wat netjies vir ons uitgelê is

Elke vrou se realiteit lyk anders

Klaarmaak met skool. Gaan leer. Ontmoet die groot liefde, raak verloof, trou. Julle begin met ’n gesin van gemiddeld twee, of vier kinders wat almal superslim is en dokters gaan word. Natuurlik met ’n aftreehuis by die see en ’n trop pragtige, perfekte kleinkinders.

Ek het wel gaan leer, is toe getroud en het drie kinders … Maar die pad wat ek tot hier gestap het, was nie hoe ek dit gevisualiseer het nie!

In my jonger dae was ek so bang om uit daardie boksie te klim. So bang vir wenkbroue wat gaan lig, mense vir wie ek gaan teleurstel.

Maar toe gebeur die lewe. Dis die lewe met sy storms, seer en hartseer wat jou uit daardie boksie gooi. Dan besef jy: Daar is nie ’n resep nie. Daar is eintlik glad nie ’n stap 1 tot 10 oor hóé om hierdie pad te stap nie!

Nie een van ons stories is dieselfde nie. Elke vrou is uniek. Elkeen het haar eie uitdagings, geluk en hartseer.

Die tyd gaan so gou verby

Die jare vlieg en met elke verjaarsdag kyk ons terug op ’n onvolmaakte pad. Ons sien soveel kronkels en slaggate, soveel verkeerde besluite. Daar is baie dinge om oor spyt te wees.

Veertig, vyftig, sestig … Party van ons ly aan die leënessindroom. Van ons het nog ’n laatlam in die huis. Ander het tegelykertyd ’n kind op laerskool, hoërskool en universiteit.

Selfs saam vakansie hou, raak ’n reuse-uitdaging. Nie een van die kinders is op dieselfde bladsy nie. Die generasiegaping is net te groot. As vredemaker en regter word jy tot die uiterste beproef.

Dan is daar nog dié van ons wat aan ’n loopbaan werk. Ons moet seker maak ons pensioen is in orde en daar is genoeg geld vir die laatlam om te gaan studeer.

Dit raak ’n warrelwindroete. Hiermee saam, net nog meer selfverwyt. Bestee ek genoeg tyd saam met my hartsmense?

Ek het al weer laat by ’n hokkiewedstryd opgedaag. Ek het vergeet ek is die tandemuis. Die middelkind wat ’n taak moet inhandig en die oudste wat my motor wil leen, is ook lankal vergete!

Jy bereik ’n stadium waar jy geliefdes verloor. Jou vriende verloor ouers; mammas word weduwees. Dis ’n seer werklikheid. Wat soms die hardste slaan, is daardie knaende selfverwyt. Daar is nie altyd tyd om reg te maak nie. Om jammer te sê of oor te begin nie.

Alles gebeur met ’n groter doel

Dink jouself in Moses se mamma se skoene in. ’n Vrou wat absoluut geen ander keuse gehad het nie. Sy moes haar klein, pap baba in ’n gevlegte mandjie plaas. Toe doen sy die ondenkbare en gaan los die mandjie in die rivier. Vol vertroue.

Niemand se pad is gewaarborg om hobbel- en kronkelvry te wees nie. Niemand is van seer en verlies gevrywaar nie.

Maar as ek terugkyk, sien ek hoe elke stukkie soos ’n legkaart inmekaar geval het. En hoe mooi die prentjie nou is. Met Sy genade kan ons elke bietjie selfverwyt, al ons foute en al die hartseer oor die verlede agterlaat. Fokus op elke ding wat jy graag anders sou wou doen. Plaas dit nou in jou Mosesmandjie. Visualiseer hoe jy daardie mandjie vol seer in die water stoot.

Slegs wanneer ons bereid is om hierdie dinge te laat gaan, kan ons elke fase, elke verjaarsdag en elke grys haar voluit leer omhels.