Hoe om… jou lyftaal positief te hou

0
104
catherine van heerden

Wat is die moets en moenies oor lyftaal as ek iemand die eerste keer ontmoet? Ek weet my liggaamshouding en gebare is net so belangrik soos dit wat ek sê. Hoe kan ek meer ontspanne en in beheer lyk?

Wat is die moets en moenies oor lyftaal as ek iemand die eerste keer ontmoet? Ek weet my liggaamshouding en gebare is net so belangrik soos dit wat ek sê. Hoe kan ek meer ontspanne en in beheer lyk?

Catherine sê

Sweterige handpalms. Skoenlappers in jou maag. Jou hart wat in jou keel klop. Ons ken almal hierdie gevoel as die senuwees knaag. Of dit ’n werksonderhoud is en of jy die skoolhoof moet gaan spreek, dit kan senutergend wees.

Dit help nie juis om daaraan herinner te word dat eerste indrukke dikwels blywend is nie. Die gedagte dat dit dalk jou enigste kans gaan wees om die persoon te beïndruk, is genoeg om enigiemand se keel te laat toetrek. Maar onthou, dit gaan nie soseer oor wat jy sê nie, maar oor hoe jy dit sê. Jou lyftaal gaan heel waarskynlik harder praat as jou woorde.

As jy meer positief met jou lyf wil kommunikeer, moet jy weet jou houding gaan iets verklap oor jou persoonlikheid, gemoedstoestand en selfbeeld. Jou lyf gaan ’n storie vertel. Jou taak is om jou storie met selfversekerde woorde en aksies aan die persoon te bemark. Dis g’n kleinigheid nie, ek weet.

Positiewe lyftaal kan ingeoefen word

Gelukkig kan lyftaal wat positief praat, ingeoefen word. Staan regop, glimlag vriendelik en groet die persoon met ’n ferm handdruk; dan is die stryd al halfpad gewonne. As jy die persoon nie in die oë kyk of behoorlik groet nie, skep dit dadelik die indruk dat jy min selfvertroue het. As iemand jou vir die eerste keer ontmoet, gaan hulle natuurlik meer op jou liggaamstaal en gebare fokus, omdat hulle soveel as moontlik omtrent jou te wete wil kom.

’n Goeie wenk is om vooraf vriende of bekende persone wat positiewe lyftaal uitstraal, dop te hou. Kyk byvoorbeeld na video’s van Oprah of Barack Obama. Hulle hande hang altyd gemaklik langs hulle sye, hulle glimlag gedurig, en hulle woorde en gebare is gelaai met passie. Dit mag snaaks klink, maar daar steek baie waarheid in die gesegde, fake it ’till you make it. Dit is ’n goeie manier om nuwe dinge aan te leer. As jy regop sit, sal jy meer energiek en in beheer voel. As jy jou handbewegings stadiger maak, sal jy dalk kalmer voel. As jy meer glimlag, gaan jy sommer gelukkiger voel. Dale Carnegie het eenkeer oor die krag van ’n glimlag gepraat, of dit nou natuurlik of effens gedwonge is. Al voel jy nie lus nie, glimlag in elk geval. Dit stel daardie broodnodige voelgoed-endorfiene vry.

Voeg jou daad by jou woord

Jy weet seker teen dié tyd om nie jou arms of bene te kruis nie. Dit laat jou geslote lyk. Sit gemaklik en ontspanne in die stoel en haal reëlmatig asem. Probeer om nie jou hande rond te swaai of te veel te beduie nie. Dit kan baie steurend wees.

Kleredrag is natuurlik ook belangrik. Trek netjies en professioneel aan. As jy vir ’n onderhoud gaan, kan jy vooraf probeer uitvind wat die kleredragkode is. Jou klere vir ’n rekenmeesterspos sal anders lyk as vir ’n pos in die modewêreld. Kragtige kleurkombinasies wat jy vir die sakebedryf kan aantrek, is swart, rooi en wit.

Jou lyftaal is ’n natuurlike uitvloeisel van jou energievlak. As daar iets is wat jou help om spanning te verlig, soos oefening of meditasie, is dit ’n goeie gedagte om dalk ’n ent te gaan stap of draf die dag van jou onderhoud. En moenie te veel koffie drink nie, want dit kan jou bewerig laat voel.

Jou hart praat altyd die hardste

Wees eerlik in die gesprek. Beantwoord alle vrae na die beste van jou vermoë. Moenie in ’n onderhoud vir werk beweer dat jy iets kan doen wat jy nie kan doen nie. Die beste raad wat ek jou kan gee, is om jou hart te ondersoek, want jou lyftaal kom ook uit die hart. “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe,” sê Spreuke 4:23 tereg.

Daar is baie uitdagings waaroor jy min of geen beheer het tydens ’n eerste ontmoeting, maar jou lyftaal is nie een daarvan nie. Jy kan dít ten minste beheer. Laat jou lyf dus help met die praatwerk. En maak seker die storie wat jy sonder woorde oordra, stem ooreen met die suksesverhaal wat by jou mond uitkom. Dan kan jou onderhoudvoerder nie anders as om van jou ontspanne en opregte teenwoordigheid te hou nie.