HOE OM… lief te hê, al maak mense jou seer

2356

Ons almal het al iemand anders seergemaak of is deur ’n ander persoon seergemaak. Al wat ons kan doen, is om te bid vir opregte liefde, sê ANDRIES ENSLIN.

Het mense jou al seergemaak? Nege uit die tien keer is die antwoord ja. Ons almal het al seergekry as gevolg van ander mense – of dit nou met besigheid was of iemand wat vir jou gejok het, jou beskinder het of verlei het om sonde te doen.

Een ding wat jy egter moet onthou, is dat jy ook al mense seergemaak het. Ons kan gou fokus op die seer wat ander ons aangedoen het, maar jy was miskien ook al die oorsaak van iemand anders se pyn.

Mense bly mense en almal maak foute

Mense bly mense. Hulle is nie volmaak nie. Jy kan niemand vertrou nie. Mense gaan jou teleurstel en seermaak. Dis wat mense doen. Lees Johannes 2:24. Jesus, die Seun van liefde en genade, die Man met die skapies in Sy arms, die sagte Een, vertrou niemand! Op een stadium kom ’n man by Hom en spreek Hom aan as: “Goeie Meester …” Maar Jesus sê niemand is goed nie, behalwe die Vader in die hemel.

Skryf dié sinnetjie neer: Niemand is goed nie. Jou sakevennoot is nie goed nie. Jou man of vrou is nie goed nie. Jou kinders is nie goed nie. Die bestes onder ons is nie goed nie. Die Bybel sê nou wel jy moenie mense vertrou nie, maar jy moet mense liefhê. Petrus het vir Jesus diep teleurgestel, maar Hy het hom steeds baie liefgehad.

Vertrou ek mense en plaas al my hoop op hulle, en as hulle my seermaak, val my wêreld uitmekaar? Of is ek doodeenvoudig net lief vir mense, ongeag wat hulle doen?

KLIEK HIER om na Andries se video te kyk.

Lief vir mense, al maak hulle jou seer

Liefde sê ons vergewe en ons kyk vorentoe sonder om ons hoop en blydskap op mekaar te bou. Dis wat die kringloop van pyn ons leer: “Love people and trust God.” Ons doen dit gewoonlik andersom. Natuurlik moet jy jou Pa liefhê, maar Hy is die enigste Een wat jy regtig met jou lewe kan vertrou.

Die Here roep my om mense lief te hê. As ek mense liefhet, beteken dit ek kan saam met diegene werk wat my al te na gekom het. Dit beteken ek kan in ’n verhouding staan met mense wat my in die rug gesteek het. Hulle kan my ook vergewe en weer met my ’n verhouding bou as ek hulle te na gekom het.

Miskien is jy al ’n paar keer deur die kringloop van seer in jou lewe. Mense het jou dalk al dikwels seergemaak en jy is verbitterd. As jy sukkel om mense te vertrou, sê ek: Dis 100%. Trust issues is orraait. Jy moet net nie love issues hê nie.

En die grootste hiervan is die liefde

Liefde is om jou so te gedra dat ander nie ongemaklik in jou geselskap voel nie. Om nie die hele tyd aan jouself en jou eie gewin te dink nie. Om nie sommer vir niks kwaad te word nie. Om nie elke enkele ding wat iemand verkeerd doen, te onthou sodat jy hom kan terugkry nie.

Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het. Liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde het geen perke nie.

Ons almal het al iemand anders seergemaak of is deur iemand seergemaak. Al wat ons kan doen, is om te vra vir opregte liefde al is ons te na gekom. Gelukkig hoef ons dit nie uit ons eie krag te doen nie, want ons sal dit nooit regkry nie. Net die Gees kan ons help. Ons is almal sondaars en gebroke mense, maar ons is almal oneindig kosbaar vir die koninkryk.

Andries Enslin is leraar by die Alberton LewenSentrum. ’n interkerklike gemeente. Hy het as TV-prediker bekend en geliefd geraak. Andries is ook nou op Sondae om 11:00 te sien op SABC 2.