Hoe om… meer energie te kry

1311
meer energie

Die rede vir jou moegheid is nie noodwendig ’n ongesonde dieet of onfiksheid nie. ’n Slegte  bui of negatiewe gedagtes kan dalk die oorsaak wees.

Vermy negatiewe mense wat jou moeg maak

“Emosionele vampiere” is mense wat ander afkraak, kritiseer, spot of hulle drome saboteer. Hierdie verloorders dreineer ’n mens letterlik, laat jou ontsteld en afgestomp agter, en maak jou moeg en tam.

Ongelukkige mense laat toe dat hierdie “vampiere” al hulle positiewe gevoelens uit hulle suig.

Maak ’n lys van die mense en situasies waaraan jy jouself blootstel en wat hierdie effek het. Vermy of beperk dan hierdie mense of situasies as jy gelukkiger en meer energiek wil wees.

Onthou: Gelukkige en optimistiese mense omring hulle met hulle eie persoonlike en geesdriftige ondersteuners.

Stap vinnig en regop en gee groter tree

Gelukkige en energieke mense neem groot treë, loop vinniger en staan regop. Hulle straal klaarblyklik ’n eindelose hoeveelheid energie uit.

Pessimistiese en ongelukkige mense skuifel hulle voete, neem klein treetjies, en loop stadig en met hangskouers.

Sonder om ’n woord te sê, het jy reeds ’n effek op ander sodra jy by ’n deur instap.

Met die regte liggaamshouding kan jy positiwiteit uitstraal na ander om jou. En jouself ook oortuig dat jy meer krag en moed het. Trek net jou skouers terug en kyk die wêreld vierkantig in die oë.

Detoks jou kop en gebruik positiewe woorde

Het jy geweet jy kan net een gedagte op ’n keer in jou kop hou? Jy kan fokus op ongelukkige óf op gelukkige gedagtes. Nie op albei nie.

Gebruik positiewe woorde in plaas van woorde wat ontstel. Jou eerste reaksie op ’n probleem is dalk: “Nee, ek kan dit nie doen nie.” Sê volgende keer eerder: “Dit is ’n uitdaging, maar ek glo ek kan ’n plan maak,” wat meer positief is.

Deur bloot ’n mens se woordkeuse te verander, kan jou gesindheid en gevoelens ook in ’n japtrap verander.

Fokus doelbewus op wat jy wil bereik

Bekommernis is die hoofrede waarom ons soms tam en ongelukkig voel. Die vinnigste manier om jouself met eindelose geluk en energie te vul, is om nie oor alles te stres nie.

Elke keer as jy ’n negatiewe gedagte het, skakel onmiddellik oor na ’n positiewe gedagte, soos ’n oplossing vir die probleem.

Ongelukkige en pessimistiese mense is daarop ingestel om te kla, maar gelukkige en optimistiese mense fokus eerder op oplossings. Dit maak hulle propvol lewenslus.

Gebruik die tyd wat jy oor iets sou tob, om eerder planne te maak.

Doen dit wat jou hart laat sing

Die beste manier om elke oggend vol entoesiasme uit die bed te klim, is om jou passie te vind en dit te leef.

Stel vas wat jou opgewonde maak en jy sal onbeperkte nuwe energie in jouself ontdek.

Optimistiese mense het ’n duidelike visie van ’n opwindende lewe. Hulle jaag vol selfvertroue hulle doelwitte na en aanvaar verantwoordelikheid vir hulle eie lewe.

Pessimiste hou daarvan om te kla en ander te blameer maar doen self niks om hulle omstandighede te verbeter nie.