Hoe om mekaar beter te verstaan

0
67
verstaan_jou_man.png

As jy en jou man gedurig op mekaar se tone trap, is dit dalk hoog tyd om plekke te ruil. Want dít kan julle huwelik vir ewig verander …

Sukkel jy om jou man se obsessie met jag te verstaan? En gaan dit sy verstand te bowe as jy elke Vrydag saam met jou vriendin móét gaan koffie drink?

Jy hoor dikwels hoe vroue sê: “Ek het geen idee wat hy wil hê nie!” of “Ek sal hom seker nooit verstaan nie” of “Ek kan nie gló hy weet nog stééds nie dat ek angeliere haat nie!” Volgens kenners is empatie die belangrikste bestanddeel van die huwelik. Sodra ’n paartjie begin om dít te vergeet, raak hulle sulke dinge kwyt en begin hulle die pot mis sit!

Die bekende paartjie, huweliksterapeute en outeurs Drs. Les en Leslie Parrott het onlangs hulle splinternuwe boek Trading Places: The best move you’ll ever make in your marriage (HarperCollins Publishers) bekendgestel. Die outeurs meen dat die vermoë om in mekaar se skoene te staan aangeleer kan word – met vreugdevolle resultate.

Volgens Trading Places moet jy leer om die volgende te sê en weet wat dit behels:

1.   “Ek sien jou raak” – Dit beteken jy moet jou eie belange opsyskuif.

2.   “Ek voel saam met jou” – Dit beteken: skakel jou emosionele radar aan!

3.   “Ek tree op om jou te help” – Dit wys jou maat dat jy omgee.

Les en Leslie waarborg paartjies dat indien hulle hierdie drie stappe toepas dit konflik sal verminder, hulle as paartjie baie meer saam sal lag en pret sal hê, hulle mekaar makliker sal vergewe en dit alles uiteindelik sal lei tot ’n meer intieme en gelukkiger huwelik. “Ons het al dikwels daaroor gefantaseer om letterlik ’n houer vol wedersydse empatie – die rewolusionêre bestanddeel om ’n verhouding mee te verbeter – gedurende ons seminare aan ’n paartjie te oorhandig,” vertel hulle. Jou doel moet wees om tydelik in jou maat se skoene te staan en die situasie vanuit sy hoek te beskou.

Leandie Buys, ’n kliniese seksuoloog en verhoudingsterapeut, stem saam. “Dit help jou om jou man beter te verstaan en dít help weer om moeilike situasies op te los.” Sy gee ’n sewe-stap plan vir jou om te leer hoe om jou maat se skoene van tyd-tot-tyd aan te trek:

Stap 1: Empatie is nie simpatie nie

Die belangrikste verskil tussen empatie en simpatie is ervaring, meen Leandie. “Simpatie is die herkenning van iemand anders se gevoelens, maar empatie of inlewing is om in werklikheid daardie gevoelens te deel. Dit beteken dat jy verstaan waar die ander persoon vandaan kom – selfs al stem jy nie noodwendig met hom saam nie!” Dit is belangrik dat jy verstaan wat inlewing is sodat jy dit doeltreffend kan toepas. Dit beteken dat jy soms die gedagte agter die rooi angeliere moet raaksien!

Stap 2: Verstaan hoekom julle vassit

“Gewoonlik is konflik in ’n verhouding die gevolg van ’n misverstand of swak kommunikasie. Die feit dat jy kwaad word, is doodgewoon menslik, maar wees versigtig wat jy in jou woede sê en doen. Want in die hitte van die oomblik kan jy, of albei van julle, maklik die ander een seermaak.”

Stap 3: Weet wanneer om konflik te stop

Die beste tyd om empatie te gebruik, is wanneer jy agterkom julle stuur in die rigting van ’n konfliksituasie. “Dit verg oefening!” meen Leandie. As jy in die middel van ’n argument is, STOP ONMIDDELLIK en tree terug (fisiek en emosioneel).

Stap 4: Tel tot by tien … minute!

As dit nodig is, loop uit en gaan sit vir tien minute lank in ’n ander vertrek. Wanneer die “hitte van die oomblik” getaan het, gaan terug na jou maat toe en gesels rustig. Probeer om die situasie vanuit jou maat se perspektief te sien. Sit dan saam en bespreek mekaar se sienings.

Stap 5: Moenie dink nie, voel

“Deur te verstaan en jouself toe te laat om emosies vanuit jou maat se hoek te ervaar, gee ’n nuwe dimensie aan jou vlak van kommunikasie binne ’n verhouding,” meen Leandie. “Een van die grootste boustene van empatie, is verstaan. En hoe meer jy jou maat verstaan, hoe beter kan jy saam met hom vóél!”

Stap 6: Oefen om te verstaan

 “Om te verstaan, verg ook oefening,” meen Leandie. “Onthou dat mans en vroue verskil – nie net fisiek nie, maar psigologies, verstandelik en emosioneel. Ons reageer verskillend op spanning, liefde, seks en konflik. Wanneer jy dít verstaan, sal jy jou man se optrede met meer deernis kan aanvaar en baie meer empatie met hom hê!

Stap 7: Lees en leer

Leandie beveel aan dat, as jy julle verhouding op hierdie vlak wil verbeter, jy die boeke Men are from Mars and women are from Venus deur John Gray, sowel as sy opvolgboek Why Mars and Venus collide lees. “Hierdie boeke belig die verskille tussen mans en vroue en help paartjies om mekaar te verstaan en te verstaan hoe jou maat in sekere situasies dink.”