Hoe om… met God te gesels

338

Annalie Steenkamp-Nel

Ons ken almal die moedelose gevoel van rondrol terwyl die slaap wegbly. In plaas van om oor môre se vergadering te stres, gebruik eerder die tyd om Sy boodskap te hoor, sê ANNALIE STEENKAMP-NEL.

Wanneer jy in die nag ver ry, ’n siek mens oppas of vroeg in die môre bestuur, sit ’n slag die radio af en luister. Gebruik die tyd en geleentheid om na te dink oor jou en jou mense se storie. Jy kan dalk iets hoor wat die toekoms van die familie, skool, woonbuurt en uiteindelik ons land kan omkeer.

Slaaploosheid het soms ’n goeie doel

Dit was ’n gebruik onder die konings van die Ooste om na die geskiedenis te kyk om riglyne te kry. Hulle het gereeld oor die belangrikste insidente in hulle eie lewe en dié van hulle voorsate gedink.

Een nag toe koning Ahasveros nie kon slaap nie, laat haal hy die koninklike hofrekord van al die magtige dade van die konings.

Sy aandag word gevestig op die optrede van die koningin se oom, Mordegai. Hy het ’n sameswering van twee sekuriteitsmanne (poortwagte) om die koning te vermoor, gefnuik. Maar hy is nooit vergoed vir sy goeie daad nie.

Ahasveros besluit om Mordegai te vereer. Dit lei ook sommer tot die uitvang van ander korruptes. Mordegai word bevorder tot tweede in bevel. Vanuit sy posisie probeer hy vir die res van sy lewe om die welvaart en veiligheid van die Jode te verseker.

Die leier se slaaploosheid lei dus tot ’n keerpunt in die geskiedenis. Dit kan ook vir en met jou gebeur.

Wanneer jy volgende keer rondrol, dink oor verhoudings en gebeure in jou klein kringetjie. Is daar dalk patrone wat herhaal, negatief of positief? Wat sê die Here daaroor?

Gesels met God wanneer jy wakker lê

“Ek kan nie slaap nie. Waar is my voorfamilie se dapper bloed in my are heen?” sug iemand verlede week. “Het ek dalk te veel om te verloor om my mond oop te maak by die werk?”

“Toe ons minder gehad het, was ons dapperder,” merk iemand droogweg op.

Die psalmdigter het ook laatnag wakker gelê en geworstel. Hy kon dit nie kleinkry dat hy bid, en daar geen antwoorde vir sy omstandighede is nie. Hy skryf toe ’n lied.

Sy krisis sny diep. Sy verhouding met God is ánders as in die verlede. Van sy geboorte af het Hy vir hom gesorg, en nou? Sy omstandighede is soos oopbek leeus wat op hom afstorm.

Wat doen ’n mens wanneer daardie uitdagings te groot word? Jy praat met die hemelse Vader, soos die psalmdigter. Jy luister na die antwoord. En vra dat Hy weer jou jelliebene sal maak soos sement.

Sing, al is jy bekommerd oor baie dinge

Partykeer was die psalmdigter se nagte maar woelig. Hy jubel, vertel hy. “Jubel” kan vertaal word met “sing”. Hy sing op ’n spesiale manier – met ’n tamboeryn en lier omdat dié instrumente in tye van oorwinning gebruik is. Hy sing oor God se belofte om vir Israel oorwinning te gee.

Hoekom is sing so belangrik? As ’n mens sing, het wetenskaplikes vasgestel, stel jy minder streshormone vry. Dit help jou om helderder te dink. .

Een vrou vertel: “Tussen al my skuld deur het ek op ’n dag aan die einde van die maand die Here begin loof en prys, sommer net. Toe ek daardie oggend by die bank instap om ’n vorm in te vul sodat ek weer ’n cash loan kon kry, roep die bankbestuurder my nader.

“Moenie!” het hy gesê. “Ons sal jou help om die skuld te betaal op so ’n manier dat jy nog geld sal oorhê om deur die maand te kom.”

As jy snags bekommerd wakker lê, sing in die middel van swaarkry ’n oorwinning los!