Hoe om minder te baklei

0
42
minder baklei

Rusies met jou kinders is so uitputtend. Oor huiswerk, slordige kamers, daardie slimfoon aan tafel… Miskien is dit tyd om die wapens neer te lê.

Rusies met jou kinders is so uitputtend. Oor huiswerk, slordige kamers, daardie slimfoon aan tafel… Miskien is dit tyd om die wapens neer te lê.

Jy weet hoe die gedurige bakleiery jou ontstel en uitmergel. Dit veroorsaak ’n dik atmosfeer en dik monde. Die ergste is dat ons nie altyd besef hoe skadelik hierdie patroon van vuurwarm rusies vir ouers en kinders kan raak nie.

Later begin jou kind jou as die vyand beskou eerder as ’n sterk ankerfiguur wat hom moet lei en ondersteun. Jy kan nie alle woordewisselings voorkom nie, maar jy kan die hoeveelheid en die intensiteit daarvan beheer. En natuurlik die skade wat dit aanrig.

Jy kan beheer neem sonder om te veg

Elke argument bevat twee komponente: ’n uitdrukking van ’n bepaalde gevoel en ’n versoek. Die argument-gesprek sal nie jou as ouer se besluitnemingsgesag ondermyn nie.

Dit gebeur wel as die argument-verset-situasie hom voordoen. Dis dié tipe redekaweling wat wrywing in gesinne veroorsaak. Jou kind wil tot elke prys sy sin hê, terwyl jy probeer om jou standpunt en besluite te regverdig.

As jy reaktief luister, vermy jy die argument deur dit doodeenvoudig nie te bespreek nie. Gee jou kind die geleentheid om te praat. Luister wat sy wil hê, hoe sy voel, wat sy dink en wat haar wense is. Hoe meer jy haar gevoelens respekteer, hoe meer sal sy jou gesag respekteer.

Byt op jou tong as jy nie saamstem nie. Solank as wat jy net luister, is daar nie ’n argument nie. Jy moet meer luister en minder praat!

Keer ’n argument nog voor dit begin

As jou kind begin stry, druk sy bloot haar gevoelens uit en vra vir iets. Hy wil nie gaan slaap nie (hy is bang hy mis iets). Sy wil nie haar kamer aan die kant maak nie (buite speel klink baie lekkerder). As jy reaktief luister en ’n bakleiery vermy, voel ’n teleurgestelde kind ten minste dat haar ouers haar gevoelens respekteer.

Daar is nie ’n geheime formule nie. Al wat dit verg, is oefening. Deel die gesprek in twee dele: Help eerstens jou kind om sy gevoelens duidelik en so volledig moontlik uit te druk. Neem dan eers jou besluit. (Tel tot tien as dit moet!)

Die emosies word ontlont en die wapens kan neergelê word. Daar is ook nie agterna verwyte oor lelike dinge wat in ’n oomblik van woede gesê is nie.

Jou kind sal leer om na ander te luister

Ons wil almal graag hê ons kinders moet eendag negatiewe en skadelike groepsdruk kan weerstaan. Ouers moet besef dat kinders ook hulle wil en standpunt moet kan laat geld. Een manier om dit te doen is om nee te sê, en die ander is om te argumenteer.

Jy as ouer hoef nie daardie nee as finaal te aanvaar nie, en hoef ook nie toe te gee in die argument nie. Maar as jy haar reg tot teenstand, protes en klagtes wegneem, neem jy haar unieke stem weg.

As jy jou kind leer om saam te werk deur aandagtig na haar luister, kan dit verreikende en verrykende gevolge hê. As jy kalm na jou kinders kan luister voordat jy ’n besluit neem, leer hulle ook hoe om na ander mense in hulle wêreld te luister. Nou, en in die toekoms.

Artikel vertaal en verwerk uit Stop Arguing with Your Kids (Michael P Nichols).