Hoe om onderlaag rég aan te wend

0
22
janie_du_plessis.jpg

Om onderlaag só aan te wend dat dit natuurlik en foutloos vertoon, is ’n kuns wat jy kan aanleer!

Janie du Plessis, TV-aanbieder en hoof uitvoerende beampte van People Living With Cancer, lyk altyd foutloos natuurlik. Sy onthul hoe sy die vlekkelose voorkoms kry.

Moenie meer onderlaag dra as wat nodig is nie

revlon_0.jpgDit was eers met televisie-opnames dat ek opgelet het na my vel se ondertoon. My velkleur is ’n medium skakering – dis nie besonder donker of uitermate bleek nie. Die les wat ek uit fotosessies geleer het, is dat jy nie méér grimering moet dra as wat nodig is nie. As jou vel mooi is, moenie dit wegsteek onder ’n onderlaag met die swaarste bedekking nie. Moet ook nie onderlaag gebruik om jou vel ligter of donkerder te laat lyk nie. Ek is nie erg oor baie kleur aan my gesig nie.

Eksperimenteer en vind uit watter aanwending vir jou werk

Daar is baie maniere om onderlaag aan te wend. Ek gebruik my vingers en doen dit tydsaam. Ek stippel eers roomonderlaag aan my voorkop, neus, wange en ken, en smeer dit dan oral aan. My onderlaag is my sonblok; daarom gebruik ek dit altyd. As ek sê oral, bedoel ek nie my oorlelle of nek nie, hoewel ek al met grimeerkunstenaars gewerk het wat op daardie plekke onderlaag aanskakeer. Die letsel aan my keel, wat duidelik sigbaar is, maak hulle gewoonlik ook met onderlaag toe.

Maak só dat jou gesig nie soos ’n masker lyk nie

As jy op foto’s gaan wees, soos met ’n troue of verjaarsdagpartytjie, kan jy maar weet ’n flitslig gaan gebruik word. Dit is amper soos om in ’n TV-ateljee te wees. Dan moet jy ’n bietjie meer onderlaagdekking hê en jou blosser moet ook effens meer wees, anders kan jy vreeslik uitgewas lyk. Dit is ook die een geval waar onderlaag met ’n ingeboude sonbeskermingsfaktor nie ideaal is nie. Die bestanddele in sonskerm is juis spierwit en dit weerkaats ’n kameraflits se lig, wat jou ongesond bleek laat lyk.

Gebruik minimale grimering wanneer jy buite gaan wees

Ek dra baie min grimering. As ek buite gaan wees of gaan gholf speel in warm somerweer, het ek ’n spesifieke roetine. Dit verseker dat ek heeldag vars lyk. Eerstens sit ek getinte onderlaag met die hoogste sonsbeskermingsfaktor aan. Daarna gebruik ek kompakte poeier op sekere plekke op my gesig. Ek wend dit net op my ken en neus aan, waar ek geneig is om blink kolle te kry. As jy ouer is, moet jy nie onder jou oë poeier nie, want dit sal fyn plooitjies in daardie area beklemtoon.

Artikel deur Ryno Mulder