Hoe om… oor God te dink

144

Sonika Kruger

Die siening wat jy van Hom het, sal jou geloof bepaal. Dit sal ook jou houding teenoor die lewe beïnvloed, sê CHERISE VERMEULEN.

Dis nie waar jy bly, waarmee jy ry of wat jy kry wat die belangrikste is nie. Ook nie watter grade jy het of nié het nie. Of hoeveel vriende jy op Facebook het nie.

Die skrywer AW Tozer het gesê: “Wat by ons opkom as ons aan God dink, is die belangrikste ding omtrent ons.”

Om anders te dink oor Hom, begin met ’n besluit dat Hy goed is. Dit is nie so maklik nie, want dit lyk soms asof Hy nie in die wêreld teenwoordig is nie.

Onthou egter, wat op die aarde gebeur, verander nie die Persoon wat oor die aarde regeer nie.

’n Gewone man met ’n hart vol liefde

Party mense praat van “die Ouman daar bo”. Ander weer dink aan iemand wat met ’n sweep regstaan om houe uit te deel as ons foute maak. Kwaai. Ongenaakbaar.

Ander beleef ’n liefdevolle en genadige pa. Betroubaar en altyd daar. Maar wat dink jý?

Dis moeilik, want het ons enige idee van wie Hy werklik is? As mens was Jesus nie koninklik met ’n indrukwekkende gestalte om ons as mense te beïndruk nie. Hy het ook nie ’n sekere voorkoms gehad dat ons van Hom sou hou nie.

Volgens die Bybel was Sy uiterlike doodgewoon.

Ons weet Hy was sagmoedig, maar kon dié wat verkeerd was, stilmaak sonder om stem dik te maak. Dus, sag, maar ferm.

In Sy diepste wese was en is Hy liefde. Hy ken al ons goeie en slegte eienskappe, en steeds is daardie liefde vir ons oneindig.

Julle kan ’n diep verhouding hê, soos goeie vriende

Dink jy met bewondering aan Hom, of is daar eerder ’n onsekerheid en vrees in jou hart?

Om anders oor God te dink begin by hoe jou verhouding met Hom is. Hy moet jou grootste vertroueling wees. Die Een wat jou so goed ken en verstaan dat jy oor enigiets kan gesels en steeds veilig voel.

Ná so ’n hartsgesprek is jou gees gesalf en gaan jy die dag met ’n huppel in die stap tegemoet.

In Eksodus het Moses met God binne-in die tent soos met ’n vriend gepraat. Hulle het mekaar in die oë gekyk en rustig gesels.

Miskien moet ons ook so met ons Vader gesels, soos vriende wat mekaar in die oë kyk. Probeer dit. Sodra jy naderkom, sal jy die liefde en die blydskap oor jou in Sy “oë” sien.

Hy ken jou beter as jyself

Jou lewe hoef allermins perfek te wees voordat julle soos ou vriende kan gesels. Kom sommer nou, net soos jy is. Met jou sigarette en drankie, jou foute en vrese.

Daar is per slot van sake niks wat Hy nie weet nie. Jou woede en teleurstelling is nie onverwags nie, selfs nie eens waar dit op Hom gerig is nie.

Die liefdevolle Vader kyk elke dag die pad stukkend en hoop dat vandag dalk die dag is dat Sy kind sal terugkom huis toe.

Hy is nie verantwoordelik vir alles wat verkeerd loop nie, al wil die mensdom Hom graag daarvoor blameer. Hy is ook nie die oorsaak van ons foute nie. Maar Hy is die enigste een wat dit kan omdraai en ’n wonderwerk daarvan kan maak.

Wanneer ons die Woord lees, sien ons hoe Hy daar aan ons voorgestel word: In Psalms is dit “barmhartig en genadig”. Soos ’n aardse pa omgee vir sy kinders, so gee die hemelse Pa om vir dié wat Hom dien. Hy is lankmoedig, vol liefde en trou, en geduldig met elkeen van ons.

God is beslis nie “daar bo” nie. Hy is sommer net hier by ons en is betrokke by alles wat in elkeen se lewe gebeur.

Kliek op vrouewatglo.co.za/leeflesse om na Cherise Vermeulen se geestelike selfhelp video te kyk.