HOE OM… op wat regtig belangrik is, te fokus

fokus

Of jy ’n tuisteskepper is of in ’n kantoor werk, daar is dinge wat jou tyd steel. Só keer jy dat onbenullighede jou aandag aflei.

1. Verminder die opsies om uit te kies

Ons is bederf met die baie keuses wat ons het. Dink net aan die groot getal kanale op satelliet-TV en die magdom ontbytkosse op die supermark se rak.

Die wêreld het klein geword – voorheen sou ons nie geweet het van dinge wat in ’n ander land gebeur nie. Nou lees ons binne sekondes op sosiale media van ’n aardbewing in Nieu-Seeland.

Die kuns is om slim te werk met sosiale media sodat dit nie jou lewe beheer nie.

2. Besluit of dit wat jy nou doen, werklik belangrik is

Met soveel dinge wat ons op allerhande toestelle kan doen, is dit geen wonder dat ons soms niks uitgerig kry nie.

Kry ’n goeie interne radarstelsel vir “gemors”. Vra jouself: Is dit waarmee ek nou besig is, werklik my kosbare tyd en aandag werd?

Voeg daardie TV-reeks waarna jy ure lank kyk, waarde tot jou lewe toe? Daar is waarskynlik iets meer produktiefs wat jy kon doen. Dit is ook nie nodig om elke stuk gemorspos in jou e-posbus te lees nie.

3. Laat weet almal vandag is ’n besige dag

Mense sal jou altyd die meeste steur op daardie dol dae. By die werk kan jy ’n “do not disturb”-bordjie ophang, maar wat as jou vriendin vir ure oor die telefoon wil gesels?

Kry ’n ferm, maar vriendelike benadering. Laat haar op ’n mooi manier verstaan dat daar nie tyd is vir lank gesels nie.

Voorsorg is beter as nasorg. As vriende en familie vooraf weet dat jy vandag ’n dringende taak het, sal hulle dit respekteer.

4. Hou ’n doelwit byderhand sodat jy nie afdwaal nie

Jou aandag word nie net afgelei tydens onmiddellike take nie. Jy het dalk ’n langtermyndoelwit, maar beland telkens op ’n syspoor en maak geen vordering nie.

Miskien droom jy daaroor om ’n boek te skryf. Die navorsing daarvoor hou jou egter so besig dat jy nie aan die gang kom en begin skryf nie.

Skryf jou doelwit op ’n kaartjie en dra dit saam met jou. Haal die kaartjie uit en dink elke keer hoe ’n sekere besluit daardie doelwit sal beïnvloed.

5. Sit elke dag tien minute opsy om jou te bekommer

Bekommernis en stres put jou uit sodat jy minder energie het om op jou doelwit te fokus.

Dit waaroor jy tob, hou dalk glad nie verband met dit waarmee jy besig is nie. Tog het dit wel ’n invloed op jou dagtaak.

Skeduleer ’n spesifieke bekommertyd op die kalender. Dis natuurlik nodig om selfdissipline toe te pas. Gun jouself tien minute en ’n koppie tee terwyl jy oor iets nadink. Verban dan alle gedagtes daaraan en werk rustig verder.