Hoe om… te bly vertrou

742

“Om en om en om en om en om draai die aarde. Om en om… en ons draai saam. God hou als wat lewe in die holte van Sy hand. Hy hou jou en my ook in die holte van Sy hand! Ek is nooit alleen nie, want die Here is by my. Jy is nooit alleen nie, want die Here is by jou.”

Hierdie liedjie het ontstaan toe twee kleuterdogtertjies een oggend huil-huil saam met Mamma skool toe gery het. Pappa het met die verkeerde voet uit die bed geklim en sy frustrasies met sarkasme en veralgemenings op hulle uitgehaal: “Hulle doen nooit die regte dinge nie!”

Jou besluite het gevolge, met ’n effek op jou lewe

Daardie oggend het ek die liedjie geskryf wat jare later in my eie kop sou weerklink, die dag toe my wêreld in duisend stukkies gebreek het.

Soms voel dit asof die lewe se mallemeule ons rondruk tussen twee noordelike, sewe oostelike, drie suidelike en ’n versameling westelike rigtings. Jy probeer jou besluit en die gevolge daarvan inhardloop, maar die uitkring-effek beweeg teen die spoed van lig.

Uiteindelik raak die lewe ’n sinnelose mallemeule waar jy keer op keer gelukkig is as jy wel weer op jou voete land. Gelukkig is daar Iemand as rigtingwyser in jou lewe, gereed om jou wêreld weer regop te draai.

Ons baklei soms so hard teen die swaartekrag van swaarkry dat ons vergeet dit is, nes swaartekrag as natuurwet, ook ’n geestelike wet. Gelukkig is daar altyd weer ’n “op” wat ons moed en krag gee.

Gee vandag jou bang rondkyk, jou gebrekkige geloof en jou uitsiglose toekoms vir Hom. Hy weet presies wat om daarmee te maak!

Die perfekte “golf” word op die regte tyd gestuur

Elke jaar begin met baie planne en mylpale, met hoogtepunte wat op ’n kalender netjies aangeteken word. Tog kan ek reeds in die middel van die jaar duidelik sien dat die energie waarmee ek hierdie beplanning gedoen het, in ’n tyd gebeur het toe ek baie meer positief was oor die jaar wat voorgelê het.

Iewers het ek nie reg begroot met my brandstof-energie nie. Dit lyk asof al die belangrike dinge waarby ek wou uitkom, vervang is deur al die dringende dinge van ander wat op my afgeskuif is. En nou gevaar inhou vir my tydlyne en die misloop van my mylpale.

Hierdie tye is tye wat ek net by die see gaan sit en my gedagtes belyn met God se ritme en tyd – Sy prioriteite en planne vir my lewe. Daar kom vrede suisend na my toe aangegolf.

Vrees vir die toekoms hou jou in ’n groef

Tog rus my oë vergeefs op die horison vir die perfekte brander. Nog ’n dag met my sitvlak stewig in die sand sit ek vasgestrand, lewenslam en moeg gejaag.

Het jy al ooit met alles wat nodig is, jou duikpak, paddavoete en branderplank, op die strand gewag vir die regte brander? Dalk het hy al gekom, maar jý het anders gekies… en die perfekte brander verpas.

Ek wonder hoeveel vroue het al ervaar wat dit is om genoeg rede te hê om in te duik, en tóg met jou boude stewig in die sand te bly sit. Lam, moedeloos probeer, vol twyfel oor ander mense se motiewe en angstig oor die toekoms.

Snaakse, goedkoop slagspreuke het nog nooit vir my gewerk nie. Swem, die branders ry, amper verdrink, leer dryf en weer probeer maak meer sin.

Elke dag saam met Hom is ’n avontuur, want ek glo en vertrou dat Hy, soos in die verlede, alles vir my reg sal laat uitwerk. Hy is my “gespierde instrukteur” wat my leer om die golwe te lees en bo te bly.

Oral waar die vyand wou steel, het God vir Wanda Bam, sangeres, Kaapse Kansel-omroeper en skrywer van die boek Wilderniswenke vir vroue, gered en alles goed laat uitwerk. Sy glo dat, ongeag hoe onvolmaak die lewe verloop, Sy tydsberekening perfek is. Die Skrif sê Hy maak alles nuut – en dis waar!