Hoe om te keer dat jy ’n hiperhelper word

0
18
tips_vir_die_liefde.jpg

Jou geneigdheid om ander altyd eerste te stel lyk dalk edel, maar pasop,  as jy so aanhou kan jy en jou verhoudings skade ly.

Herken die eienskappe van ’n hiperhelper en ontdek hoe jy kan verander:

EIENSKAP 1: sy is ’n oordrewe moederfiguur

Hiperhelpers besef dikwels nie dat hulle die mense vir wie hulle so graag wil gee, kan versmoor nie.

Teenmiddel:   Maak seker dat jy om die regte redes wil hand bysit en nie omdat jy mense van jou afhanklik wil maak nie.

EIENSKAP 2: sy smag na waardering

Wanneer ander mense ’n hiperhelper se goeie dade raaksien, blom sy. Sy gee dus sodat mense vir haar moet sê of haar laat voel dat sy ’n goeie mens is.  

Teenmiddel:  Aanvaar jouself vir wie en wat jy is – nie vir wat jy vir ander kan gee of doen nie.

EIENSKAP 3: sy is oorsensitief

Hiperhelpers kry maklik seer en probeer dan kompenseer deur nog te wil gee.

Teenmiddel:  Net omdat iemand nie jou bydrae nodig het nie, beteken nie dat hulle jou as mens verwerp nie.

EIENSKAP 4: sy sukkel om “nee” te sê

Hiperhelpers is nie selfgeldend nie. Hulle word deur ander misbruik en stel nie grense nie.

Teenmiddel:  Ontdek wat jý wil doen en stel dan gesonde grense vir ander en jouself. Hoe meer jy selfgeldend optree, hoe makliker sal dit word en hoe minder sal mense jou as ’n sagte teiken sien om hulle probleme op af te laai.

EIENSKAP 5: sy verwaarloos haar eie behoeftes

Omdat hiperhelpers so min respek en waardering vir hulleself het, is dit geen wonder dat ander hulle soos vloerlappe behandel nie.

Teenmiddel:  Jy sal gesonde besluite moet neem voordat dit te laat is en jy ’n kandidaat vir depressie word.

Om iets vir ’n ander te beteken kan ’n wonderlike gawe wees as jy weet waar om die streep te trek. Maak seker jy oortref nie jouself tot jou eie nadeel nie.