HOE OM… te sorg dat mense jou raaksien

559

Is jy een van daardie vroue wat saam met die meubels in ’n vertrek wegsmelt sodat ander jou miskyk? Nie meer lank nie…

1. Vind uit hoekom party mense so ’n indruk maak

“Sommige mense het soveel persoonlikheid, teenwoordigheid en aantrekkingskrag dat hulle ’n vertrek ophelder as hulle daar instap. Ander het weer so min, dat die vertrek ophelder as hulle uitstap.” Só glo Rick Gettle, skrywer van die boek Successercising.

Twee persone kan dieselfde ding doen of sê, maar een kan ’n indruk maak, die ander een nie. En tog, elkeen is ’n unieke, spesiale wese wat iets tot die lewe toevoeg wat niemand anders kan nie.

2. Ons lyftaal verklap hoe ons oor onsself voel

Dis nie lekker om alleen na ’n funksie toe te gaan nie. Iemand wat nie in die krag van haar persoonlikheid glo nie, haat dit om ’n vertrek vol vreemdelinge binne te stap. Sy is bang om aandag te trek.

’n Mens se liggaamshouding wys gou ’n gebrek aan eiewaarde: hangskouers en kop onderstebo. Dit is makliker om te wag dat bekendes eerste ’n gesprek aanknoop. Gedagtes soos: Wie sal nou met mý wil praat? maal in jou kop rond.

3. Jy word misgekyk omdat jy dink jy is vervelig

’n Vrou wat sag en onduidelik praat en min selfvertroue het om ’n mening te lug, glo dat sy niks kan bydra tot ’n gesprek nie. Wanneer almal haar dan miskyk, versterk dit die idee dat sy vervelig en oninteressant is.

’n Bose kringloop ontstaan. Jy dring jou nie op nie of mense sien jou eenvoudig net nie raak nie. Wat gewoonlik gebeur, is dat jy dan alleen by die kostafel eindig – met net ’n southappie as geselskap!

4. Iemand met selfvertroue weet dat sy uniek is

Aan die ander kant kom ’n vrou wat die krag van haar persoonlikheid ken, ’n vertrek anders binne. Sy glo dat die aand heerlik gaan wees en dat mense haar geselskap verwelkom.

Sy loop regop, kyk almal in die oë en glimlag spontaan. Dié vrou is nie oorbewus van wat die gaste van haar welbedeelde agterstewe of klerestyl gaan dink nie.

Dit is lekker om na haar te luister, want sy praat duidelik en hoorbaar. Sy vra vrae op ’n selfversekerde manier.

5. Wees net jouself, dis wat ander nodig het

Sê iets soos die volgende totdat jy dit begin glo: “Ek is spesiaal, uniek en interessant.”

Dalk is jy nie ’n totale muurblommetjie nie, maar voel dit asof mense jou nie ernstig opneem nie. Veral vroue sukkel om gehoor te word. ’n Jammer-dat-ek-leef-houding is dikwels die oorsaak.

Nie almal kan of wil die voorbok of die gees van die partytjie wees nie. Jy moet eg wees – nie aangeplak nie. Dan het jy iets beters om te gee, want dit kom natuurlik.