HOE OM… te weet wat God se wil is

1502

Moet jy ’n belangrike besluit neem? Miskien lê jy snags wakker daaroor. LIESEL KRAUSE-WIID gee riglyne oor hoe jy kan weet wat God vir jou wil hê.

Jy hoef net te vra dat Hy jou met die groot besluit sal help omdat jy nie jou eie kop wil volg nie, maar Hom tevrede wil stel. Vra leiding en glo jy sal berusting kry oor hierdie besluit.

Bid daaroor en lees die Bybel

Jy kán daardie vrede kry wat alle verstand te bowe gaan. In Johannes 14:27 staan daar: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” Wat jy nodig het, is iets wat vir altyd sal bly: vrede te midde van jou omstandighede.

Daardie rustigheid om te weet dat ongeag wat met jou gebeur, daar altyd Iemand is wat na jou kyk en vir jou sorg.

Die Bybel is ’n wonderlike rigtingwyser wat ons help en vir ons riglyne gee oor wat die regte dinge is om te doen. Daar is nie noodwendig klinkklare antwoorde nie, maar ons kry wel duidelike riglyne oor hoe om in sekere situasies op te tree. Sy wil kry jy in die Woord, want dit is waar Hy Homself aan ons openbaar.

Dit help natuurlik nie jy bestudeer die Skrif soos ’n handboek en ken alles uit jou kop, maar jy het geen verhouding met Hom nie. Julle moet saam ’n pad stap, dan sal jy al hoe makliker kan agterkom wat die beste ding is om te doen.

KLIEK HIER om Liesel se video te kyk.

Gebruik jou verstand en vra ander mense

Ek glo met my hele hart dat ons die verstand wat ons gekry het, moet gebruik om goeie keuses te maak. Ons is nie verniet na Sy beeld geskep nie, ons het die vermoë om te kies. Hy gee vir ons die vryheid om te kies. Die enigste ding wat Hy nie wil hê ons moet kies nie, is die sonde. Hy weet goed hoeveel hartseer lê voor as jy die verkeerde afdraaipad vat. Ons moet die lewe aangryp en geniet, maar op die regte manier.

Ja, ons het natuurlik ’n verantwoordelikheid ook. Baie mense neem besluite en dan loop dinge verkeerd, want hulle het nie ook hulle verstand gebruik nie. Dis maklik om dan die skuld vir hierdie mislukking op Hom te pak.

Kry iemand wat vir jou ’n geestelike mentor kan wees. Salomo sê wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid. Vra gerus raad by iemand na wie jy opsien. Dit kan ’n geestelike leier wees of selfs jou ma of ’n vriendin. “Klankbord” jou besluite met iemand en hoor wat daardie persoon daarvan dink. Ander mense ken jou baie goed. Jy is dalk nie op die oomblik objektief nie omdat jou situasie jou verblind.

Onthou, Hy gebruik mense om jou aan te raak – dis ook deel van die hemelse plan van hulp vir jou. Aan die ander kant word jy self ook gebruik om vir iemand anders ’n lig te wees.

Gaan dit wat jy doen, God eer?

Elke mens is uniek en wonderlik geskep. As jou vriendin sendingwerk in China doen, is dit nie noodwendig die regte ding vir jou nie. Jy het wonderlike ander unieke talente gekry waarmee jy ’n verskil moet maak.

’n Goeie maatstaf vir besluite is ook om te vra: Gaan dit wat ek doen, God eer? Of gaan dit iemand seermaak of skade berokken? Gaan dit geld mors? Kan dit dalk lei tot verslawing? Gaan dit opbou en eenheid bewerkstellig? Hoe gaan ek oor hierdie besluit voel as ek eendag op my sterfbed lê?

Gebruik jou gesonde verstand, gesels met jou geestelike mentors en luister na hulle raad. Aanvaar dat jy unieke gawes gekry het en dat jou roeping ook daarmee te doen het. Nadat jy deur al hierdie stappe gewerk het, behoort jy groter duidelikheid en vrede oor jou besluit te hê.

Liesel Krause-Wiid, Finesse se geloofskenner, is ’n deeltydse predikant by die Familiekerk NG Kameeldrif, Pretoria. Sy is ook bekend as sakevrou, radiopersoonlikheid en geleentheidspreker. Verskeie boeke het reeds uit haar pen verskyn, waaronder die Bybeldagboek vir vroue, Eerste 5.