Hoe om versoekings te systap

1031

Niemand spring versoeking vry nie, maar met slim beplanning en ’n goeie strategie kan jy gelukkig betyds wegstap. So word jy sterker en bou jy karakter.

Wanneer Jeremia in ’n benarde posisie verkeer, roep hy benoud om hulp. Die antwoord is egter nie troos nie, maar hy word bestraf omdat hy toegelaat het dat sy geestelike ewewig versteur word.

“As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hard­loop? En as jy net in ’n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos van die Jordaan?” (Jeremia 12:5-6).

So werk God ook met jou. Hy ontwikkel jou karakter deur toe te laat dat jy omstandighede beleef waarin jy in die versoeking kom om die verkeerde keuses te maak.

Hoe kan jy sê jy is goed as jy nog nooit in ’n situasie was waarin jy sleg kon wees nie? Hoe kan jy dink jy is getrou as jy nog nooit in die versoeking was om ontrou te wees nie? Hoe kan jy jou beroem op integriteit as jy nog nooit in die versoeking was om oneerlik te wees nie?

Hy wil dalk hê jy moet meer liefhê. Dan laat Hy toe dat jy tussen ’n klomp onaangename mense beland en kyk na die keuses wat jy maak.

Hy wil vir jou ware vreugde gee en laat toe dat jy hartseer en teëspoed beleef, om te kyk of jou vreugde afhang van uiterlike geluk.

Dis Sy plan vir jou dat jy vrede en rus moet beleef. Tog kom daar tye van chaos en verwarring in jou lewe. Ons leer mos ware vrede ken juis deur in ons krisistye te bly vertrou. Geduld word geleer deur nie deur alles dadelik te kry nie, maar deur rustig te wag.

Jou karakter word juis ontwikkel deur die teenoorgestelde situasie van wat jy dink reg en goed is. Elke keer dat jy positief bo so ’n situasie uitstyg, ontwikkel jou karakter verder.

Hoe werk versoekings? Gelukkig weet ons, want in hierdie opsig is Satan heeltemal voorspelbaar. Dieselfde strategie wat hy met Adam en Eva gevolg het, het hy ook met Jesus gevolg en gebruik hy ook met jou.

“Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet” (Genesis 3:6).

Dus, hy wek ’n begeerte. Jy dink jy verdien dit, jy sal nooit weer so ’n kans kry nie. Versoeking begin altyd in jou kop, nie in die omstandighede nie. Vanuit die hart van die mens kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, afguns, kwaadpraat, hoogmoed.

Satan saai twyfel oor wat God oor sonde gesê het. Hy word nie verniet “die vader van die leuen” genoem nie. Alles wat hy vir jou vertel, sal onwaar of net half waar wees.

Hy fluister: “Jy sal niks oorkom nie; niemand sal daarvan weet nie. Buitendien, almal doen dit; dit is maar net ’n klein sondetjie.” “Is dit regtig so verkeerd? Is hierdie voorskrif nie vir ’n ander tyd bedoel nie? Ons leef tog immers in ’n verligte eeu.” So het hy ook vir Eva om die bos gelei.

Jy glo die leuens en trap dan in die lokval. Ongehoorsaamheid laat jou toegee aan die idee waarmee jy in jou gedagtes speel.

Ons hoef gelukkig nie willose slagoffers van sulke lokvalle te wees nie. Weier om geïntimideer te word. Onthou, dit is nie sonde om in versoeking te kom nie. Jesus is ook deur Satan versoek, maar Hy het nooit daaraan toegegee en gesondig nie.

“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer” (Psalm 50:15).

Herken jou versoekingspatroon en wees reg daarvoor. Satan ken jou swak plekke. Hy weet in watter situasies jy maklik vir versoeking sal val.

Dink mooi: Wanneer is ek veral kwesbaar – waar, watter dag, watter tyd? Op watter plekke? Wie is dan by my: vriende, vreemdelinge of nie­mand nie? Voel ek moeg, eensaam, verveeld, gespanne of juis suksesvol?

Slim beplanning verminder jou blootstelling aan verleiding. Vermy sulke situasies of sorg dat jy reg is daarvoor. Moenie die duiwel die geringste vatkans gee nie!

Jesus weet wat dit is om versoek te word en Hy wil ons graag help. Hy nooi jou uit en wag dat jy Hom vra.