Hoe om… Wat ons nie verstaan nie?

871

Dis moeilik om Hom te verstaan. Soms wens ons, soos Janine van Niekerk, Hy kan ’n e-pos stuur om die lewe presies te verduidelik.

Daar is baie meer vrae as antwoorde wanneer ons oor God en geloof begin dink. Dalk het jy ook al gewonder hoekom die Here dit so moeilik maak om Hom te ken. Hoekom die misterie? As Hy Homself net aan almal sou bekendmaak, sou almal mos gered word en klaar. Nou sukkel selfs ons as gelowiges met die dinge wat ons nie verstaan nie.

Die koningin van Skeba gefassineer…

Tot vandag toe is geleerdes glad nie seker waar die Skeba was waar hierdie koningin regeer het nie. Hulle weet ook nie wie sy was nie. Daar is selfs bespiegelinge dat sy en Salomo ’n kind saam gehad het, maar niks kan bewys word nie.

In 1 Konings 10 ontmoet ons ’n koningin wat reeds alles besit wat haar hart begeer. Tog fassineer gerugte van Salomo se wysheid en sy God haar, dermate dat sy die tog aanpak om die stories self te kom ondersoek. Sy toets koning Salomo met haar vrae en hy beantwoord hulle moeiteloos en met baie insig. Sy reis beïndruk terug huis toe.

Sulke buitengewone goed fassineer mense, want almal bly maar nuuskierig. Hoe lank het Salomo se bekendheid by die koningin van Skeba gespook? Hoe lank voor sy eenvoudig moes weet of die stories waar was en wat sy geheim was?

Alle mense het ’n leemte in hulle binneste

Ons ken almal iemand wat innerlike vrede uitstraal. Dis die vriendin na wie toe ek sal gaan met ’n probleem en sy sal altyd goeie raad hê, saam met ’n koppie tee. As ek van haar af weggaan, het ek sommer weer moed vir die lewe.

Prediker 3:11 sê alles is gemaak om in ’n bepaalde tyd te pas. Maar ons het ook ’n besef gekry van die onbepaalde tyd. Die ewigheid is in elke mens se hart geplant. Die Amplified Bible beskryf dit as “a mysterious longing which nothing under the sun can satisfy, except God”.

Ons is omring deur mense wat soek wat ons het – die “Goddelike andersheid” wat die koningin van Skeba aangetrek het. Daardie onverklaarbare vrede en insig wat uniek is in die wêreld.

Dis nie nodig om alles te verstaan nie

God is alwetend, funksioneer buite tyd en het altyd die hoogste gesag. Hy manipuleer ons nooit nie, al weet Hy presies wat almal in die wêreld gaan kies. Reg tot aan die einde!

Met ander woorde, ek maak verkeerde keuses en dit veroorsaak baie pyn. Dan is ek baie teleurgesteld in myself. Hoe kon ek? Nou wil ek hê dit moet in ’n kits reggestel word. Hy het mos geweet ek gaan hierdie “verkeerde” besluit neem en wat die gevolge gaan wees.

Dis egter juis daardie einste verkeerde besluit wat gebruik word om aan my lewe te werk en my karakter te vorm, en uiteindelik alles ten goede te laat meewerk.

Die feit dat my besluit reeds vooraf bekend is, maak dit nie minder my eie keuse nie, maar dit word op ’n vernuftige manier ingewerk tot die einde van tye, wat die druk van my afhaal om perfek te (probeer) wees. Wie weet, dalk begin daardie besluit ’n ketting van omstandighede wat stap vir stap werk vir ’n goeie doel. Dit lei dalk 20 jaar vorentoe tot iemand anders se bekering.

Ons hoef nie alles te verstaan nie. Ons moet Hom net vertrou en eer en ons eie agenda op die agtergrond plaas. Dit is natuurlik glad nie wat die wêreld ons vertel om te doen nie, en dis heeltemal teen die menslike natuur; daarom is dit nodig om herhaaldelik aan Sy manier van doen herinner word. Dit gee blywende vrede, vreugde en hoop.

Janine van Niekerk is ’n Jesus-liefhebber, ma, motiveringspreker, skrywer en bekende stem oor Christelike radio en televisie. Volg gerus haar program Kleurvol, Saterdae om 08:00 op Radiokansel en die kykNET-program Geloof, Hoop en Liefde.