Hoe oorkom ek ’n dieetplato?

525

Elke beweging wat jy uitvoer – doelbewus of nie – verbrand energie. Dit is goeie nuus as jy gewig wil verloor!

Die liggaam benodig energie om aan die lewe te bly, te groei, warm te bly en te beweeg. Selfs wanneer jy rus, het basiese funksies, byvoorbeeld om kos te verteer, brandstof nodig.

’n Aansienlike hoeveelheid energie word verbruik deur alledaagse bewegings wat jy amper onbewustelik uitvoer, soos vroetel, skottelgoed was en selfs tik op die rekenaar. Dit word “nie-oefening-aktiwiteit-termogenese” (non-exercise activity thermogenesis of NEAT) genoem.

Navorsing wys dat persone wat meer as 10% van hulle totale liggaamsgewig verloor het, hulle NEAT met 400 kalorieë per dag verminder het.

Wanneer jy vir ’n tydperk op ’n dieet is, maak jou liggaam aanpassings. Een hiervan is om jou energieverbruik te verlaag en meer doeltreffend te maak. Dit verklaar die plato wat ons met ’n dieet bereik!

Is daar iets wat ’n mens hieraan kan doen? Jy kan help deur meer aktief te wees – al voel jy moeg en honger!

Stap verbrand kalorieë, is maklik en jy kan dit enige tyd en plek doen. Hou die aantal treë wat jy elke dag gee so hoog moontlik. Staan op en marsjeer op die plek terwyl jy TV kyk.

Enige klein aanpassings en bewegings deur die dag kan help om jou energieverbruik te verhoog en te keer dat jy daardie frustrerende plato bereik!

Marijke Cilliers, persoonlike afrigter

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Marijke.

 

kry daai oe-la-la lyf Kry ’n Oe-la-la-lyf, aanlyn program
leesleerleef.co.za