Hoe slaan ek hooikoors hok?

884

Navorsing toon dat tranerigheid, jeukende oë, ’n loopneus en aanhoudende genies ’n mens se fisiese en verstandelike vermoëns kan belemmer.

Hooikoors kan sinusinfeksies veroorsaak, wat lei tot probleme met asemhaling, moegheid, koors en ’n loopneus. Aktiewe mense en atlete vind dat hierdie simptome, wat hulle oë en asemhalingstelsel affekteer, ook hulle prestasie benadeel.

Alhoewel talle middels verligting aan hooikoorslyers beloof, skrik die bekende newe-effek van lomerigheid die meeste van ons af. Hoe kan ek hooikoors sonder medikasie hokslaan?

Een oplossing is om jou blootstelling te verminder. Jy kan byvoorbeeld probeer om binnenshuis te bly, veral as dit winderig is. As die stuifmeeltelling baie hoog is, sal ’n binnenshuise oefensessie waarskynlik voordeliger wees. Die beste tyd om uit te gaan is nadat dit gereën het, omdat die reën die meeste van die stuifmeelkorrels wegspoel. Dit is ook ’n goeie idee om ander klere aan te trek nadat jy buite was. Droog jou klere in ’n tuimeldroër om blootstelling aan stuifmeel te verminder.

Vermy sover moontlik suiwelprodukte, aangesien dit slymerige afskeidings in die lugweg kan veroorsaak.

Om jou neus en sinusse met soutwater uit te spoel is ’n vinnige, goedkoop en doeltreffende manier om sinusverstoppings te voorkom en die irritasie van die sinusse te verminder. Soutwatersproei wat spesifiek ontwerp is om die sinusse te spoel, is by die meeste apteke beskikbaar.

Kamilletee het natuurlike anti-inflammatoriese eienskappe, nie net wanneer dit gedrink word nie, maar ook as dit op die vel aangewend word.

Jy kan ook hierdie kamilletee-gesigwas probeer: Week twee sakkies kamilletee vir drie tot vyf minute in 200 ml kookwater. Haal die teesakkies uit en laat die tee afkoel tot kamertemperatuur, of verkoel in die yskas. Die vloeistof sal help om die irriterende stuifmeelpartikels weg te was, en kan aangewend word om die gejeuk en velirritasie te verminder.