Hoe staan ek op na ’n terugslag?

0
741

Ons weet nie wat om die draai wag en watter krisisse voorlê nie. Een ding bly egter staan: Hy laat ons nooit los nie.

“Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.” (Matteus 10:38)

Met “neem jou kruis op” bedoel Jesus nie ons moet nog iets op ons neem nie. Nee, ons moet iets prysgee: onsself en ons eie pogings.

As ek my kruis opneem, beteken dit ek moet ’n besluit neem en toelaat dat die kruis mý dra. Dan maak ek vir die eerste keer staat op die werk wat reeds vir my gedoen is en op wat vir my verdien is.

My kruisdra beteken ek hoef nie aan ’n klomp vereistes te voldoen nie. Dit is klaar vir my gedoen, alles is mooi reg en die pad na ons Vader se hart is oopgemaak.

Begin net leef uit hierdie waarheid. Laat staan alles wat jy self probeer doen en laat dan toe dat die kruis jóú dra.

Pak vandag aan met die wete: Ek het die guns van God. Ek is nooit alleen nie. Hy sal my help en wil my juis dra, ook in my moeilikste omstandighede. Gaan op jou knieë, wees oop en eerlik en sê wat jy nodig het en wat jou behoefte is.

“Die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” (Hebreërs 12:6)

“Tug” beteken vir ons “straf”, maar eintlik sit daar ’n heel ander gedagte agter hierdie vers.

In Psalm 23:4 lees ons: “u stok en u staf dié vertroos my”. Die tug-woord in die Nuwe Testament en die herderstaf-begrip in die Ou Testament werk soos die stukkies van ’n legkaart. Dieselfde grondwoord en grondwaarheid word gebruik. Eers as ons dit raaksien, word die prentjie volledig.

Destyds was die herder se staf eintlik ’n verlengstuk van sy hand om ’n skaap of bok wat afdwaal, terug te bring na die trop.

Die staf is dan eintlik ’n aanraking van God, die verlengstuk van Sy hand. Dit is ’n manier om ons te help sodat ons ons fokus op die regte dinge kan terugsit. As ons lees dat vir hulle wat vir God liefhet, alles ten goede meewerk, kan ons dit maar glo, want dis waar! (Kyk Romeine 8.28.)

God gee nie vir jou reg- of verkeerde merkies en besluit dan om vir jou goed te wees of om straf uit te deel nie. Hy het jou lief en gee vir jou om. Jy word juis aangeraak om jou te help en die lewe vir jou beter te maak.

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jesaja 30:15)

Hoe meer ’n mens van God verstaan en hoe langer Hy ’n pad met jou stap, hoe gewilliger raak jy om stil te word. Daardie stilword beteken om ’n paar van jou eie menings te laat vaar.

Stilword het ’n dimensie van leegwees – leeg van jouself, sonder vooropgestelde idees, met ’n oop gemoed, in afwagting. Wat jy ook al moet hoor of watter nuwe faset in jou lewe werklikheid gemaak word, word in jou stilwees en leegwees gedoen.

So sit ek dan in afwagting, en hoor, ontdek en verstaan Sy hart. Ons is nie gemaak, of nuutgemaak, omdat Hy ons nodig gehad het nie. Nog minder om slawe en diensknegte te wees. Nee, Hy wil gemeenskap met ons hê.

Onthou altyd, jou krag lê in stilte, sodat jy in die eerste plek kan hoor wat daar vir jou gefluister word. Dan kan jy vra: “Vader, dit wat U opgewonde maak, maak my ook daarmee opgewonde!”