Hoe steek ek velfoute weg?

0
36
Melissa Bam

Partymaal voel ’n mens net lam en tam – of dit nou van min slaap of harde werk is. Melissa Bam sê jy kan nie toelaat dat jou gesig dit wys nie.

Partymaal voel ’n mens net lam en tam – of dit nou van min slaap of harde werk is. Melissa Bam sê jy kan nie toelaat dat jou gesig dit wys nie.

My grootste geheim vir ’n mooi vel is om nie gedurig aan my gesig te vat nie. Daar kleef baie bakterieë aan jou hande, en hoe meer jy aan jou vel vat, hoe groter is die kans dat jy ’n puisie of uitslag kan ontwikkel. Wanneer dit wel nodig is om ’n knoppie uit te druk, sal ek dit versigtig met ’n sneesdoekie doen.

Ek het al elke puisie-jel en -behandeling beproef maar niks is so effektief soos Willa Krause se aknee-jel nie. Dit is al waaraan ek glo. Ek maak my vel mooi skoon en as die karbonkel ook mooi skoongemaak is, sit ek net ’n kolletjie jel op die plekkie en teen môreoggend kan jy dit amper nie meer sien nie. Dit is wonderlik!

Goeie velsorg

Daar is nie ’n beter belegging as goeie velsorg nie, want dit vorm die basis van jou vel se gesondheid. Dit is soos hulle sê: Goeie velsorg is nie ’n luukse nie, dis ’n noodsaaklikheid. Bestee eerder ’n bietjie meer geld aan velsorg, want met ’n mooi vel het jy minder grimering nodig. As jou vel in ’n goeie toestand is, lyk jou grimering sommer ook natuurliker.

Donker kringe

Vir die donker kringe onder my oë is daar geen beter medisyne as slaap, slaap, slaap nie! As jy ’n ma is, is dit jou egter nie dikwels beskore nie. Dan maak ek baie staat op ’n goeie verbloemroom en onderlaag, want dit kan enigiets wegsteek. Ek hou van Smashbox se High Definition Concealer, want jy het min nodig vir maksimum effek.

Heeldag grimering

Om seker te maak my grimering hou heeldag gebruik ek ’n ligte poeier oor my hele gesig nadat ek grimering aangewend het. Dit voorkom ook dat my vel blink waar dit olierig is. In my geval is dit op my voorkop en ken. As my vel vaal voel, gebruik ek Mac se Prep+Prime Skin Base Vesage – dit gee ’n pragtige gloed aan my gesig.

Vol selfvertroue

Coco Chanel het altyd gesê die mooiste meisie is die een wat selfvertroue het. Ek stem heelhartig saam. Wanneer jy gemaklik is met wie jy is, sien die mense om jou dit raak. Dit is dan dat jy die koppe laat draai en die tonge laat klap, ongeag hoe jou vel daardie dag lyk.