Hoe tevrede is jy?

Ek sit op ‘n paneel met ‘n klomp indrukwekkende vroue uit die gemeenskap.

In die onderhoud word ons gevra: ‘Twyfel jy ooit aan jou waarde?’ ‘Nee, glad nie!’ grap ek. Behalwe dat ek heelwaarskynlik die internet kan breek met stories oor kere wat ek al my eie waarde betwyfel het. Ek sit weekliks in lewens-afrigting gesprekke met ander vroue waar dieselfde trant seëvier.

So paar maande gelede kry ‘n vriendin iets reg waarna ek nog smag. Ek betrap so vieslike gedagte wat ongesiens deur my gedagtes probeer sluip: ‘Wat maak haar so spesiaal?’ Die brutaliteit van daardie gedagte vang my erg onkant. Ek is mos lief vir hierdie vriendin van my…

Galasiërs 5:26 uit die Message parafrase raps my oor die vingers – ‘That means we will not compare ourselves with each other as if one of us were better and another worse. We have far more interesting things to do with our lives. Each of us is an original.’

Hoe is dit dat ek dink ek minder is wanneer iemand anders bevorder word, gekomplimenteer word, ‘n geleentheid gegun word? Om jouself met iemand anders te vergelyk is om jouself gewilliglik in ‘n ‘straight-jacket’ te sit. Vergelyking met ‘n ander mens beperk jou kreatiwiteit, die uniekheid van jou menswees. Jy vermors eindelose energie om op dieselfde plek as hulle te kom, net om te vind dat dit nooit ‘n inherente tevredenheid kan bring nie.

So hoe ontdek mens hierdie tevredenheid met jouself?

  1. Ek leef in die realiteit dat my hemelse Vader my onvoorwaardelik lief het en geniet.
  2. Sy uitsprake gee definisie aan my menswees. Ek weier om tot my eie definisie van my waarde beperk te wees.
  3. Dit help my om my eie uniekheid raak te sien en vir ‘n slag verwonderd te staan oor wie ek regtig is.
  4. Sê gereeld dankie vir allerlei klein dingetjies in die lewe, want dis onmoontlik om dankie te sê en terselfdertyd ontevrede met die lewe te wees.
  5. Dit word ‘n gewoonte om die mooi raak te sien in ander en dit te sê.
  6. En so skuif die fokus op ‘n gesonde manier van myself na die wêreld om my.