Hoe verloor ek vet om my middel?

433
vet om my middel

Ons kan almal klaarkom met ’n bietjie ekstra liefde, maar niemand wil dit noodwendig om hulle heupe dra nie.

Daar is heelwat wat jy kan doen om van jou love handles ontslae te raak en ’n bietjie minder vatplek om die heupe te hê.

Begin by verstandige koskeuses. Let op na wat jy eet en hoe gereeld jy eet. Hoeveel van die kalorieë wat jy inneem, kan jou liggaam verbrand?

Vervang suiker en verfynde koolhidrate met vars vrugte, groente en goeie vette, soos avokado en neute. Probeer om proteïene, veral vis wat ryk is aan omega 3, by elke maaltyd in te sluit.

Sorg dat jy genoeg oefening kry. Dit is noodsaaklik om gestoorde vet in bruikbare energie om te skakel en stres te verminder. Stres verhoog jou liggaam se produksie van kortisol, wat lei tot die berging van reserwes – veral om die maag en heupe.

Velsorgprodukte van hoë kwaliteit kan jou help om vinniger resultate te kry. Soek na produkte wat die woorde fat burning vertoon en spesifiek geformuleer is om rolletjies om die middellyf te laat wegsmelt.

Die hoeveelheid aktiewe bestanddele is uiters belangrik. Lees die lysie op die produkverpakking. Hoe verder ondertoe dit genoem word, hoe minder van daardie spesifieke bestanddeel bevat die produk.

Maak seker dat die middel wat jy aanwend, nie net bo-op jou vel gaan bly lê nie. Dit moet die vetselletjies wat diep onder die vel lê, kan binnedring en in bruikbare energie omskep.

So byvoorbeeld is kafeïen belangrik vir sirkulasie en om die vel fermer te maak. Seewier, soos sekere bruin en rooi alge, stimuleer die bloedsomloop en verbrand vet.

Onthou dat die produkte nie wonderwerke kan verrig nie. Volhoubare gewigsverlies vereis ’n leefstyl wat gereelde oefening en gesonde eetgewoontes insluit.

Janine Janse van Rensburg, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.