Hoe versag ek littekens?

301

Hoewel sommige fisieke letsels onvermydelik is, beteken dit nie dat jy nie met die onooglike merke opgeskeep hoef te sit nie.

Die meeste van ons moet die een of ander tyd ’n operasie ondergaan of is in ’n ongeluk, van watter aard ook al, betrokke. Chirurgie of beserings laat skade wat meestal heeltemal genees. Maar soms bly dit sigbaar in die vorm van ’n litteken.

Mans kan nog vertel dat hulle dié wonde opgedoen het toe hulle “leeus getem” het, maar ons girls, not so much.

Wanneer die vel beskadig word, produseer dit kollageen om die wond te genees. ’n Rofie vorm bo-oor die wond om jou vel teen infeksie te beskerm.

Mettertyd word hierdie rofie droog en val af. Soms gaan die vel ’n bietjie in “overdrive” en produseer te veel kollageen wat ’n litteken of ’n keloïedletsel vorm.

Soos met die meeste dinge, speel jou gene ’n groot rol hierin. Daar is egter maniere om die probleem te voorkom of te verminder.

Die beste en goedkoopste manier is om sodra jou steke verwyder is of die rofie vanself afval, die merk te masseer met ’n lekker dik lyfroom, ’n omegaryke olie soos olyfolie, of selfs ’n velsorgproduk wat spesifiek gemaak is om littekens te voorkom. Jy kan ook natuurlik silikoonjel of -strips gebruik.

Indien die letsel rooi word, bloei, seer of warmer as die res van jou vel raak, hou onmiddellik op met die massering en raadpleeg jou dokter.

As jy ’n litteken het wat jou werklik pla, kan jy mediese behandeling soos laser, kortisoon- inspuitings of krioterapie oorweeg. Gesels gerus met jou dermatoloog wat vir jou die beste raad sal gee.

Janine Janse van Rensburg, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Janine.