Hoe versnel ek my metabolisme?

829

Baie mense dink metabolisme het te make met hoe vinnig jy jou kos verteer, maar dit behels eintlik baie meer.

Die proses het te make met die hoeveelheid energie wat jou liggaam daagliks gebruik om al die stelsels –van vertering tot hormoonproduksie – wat nodig is vir optimale funksionering, te onderhou.

Die hoeveelheid energie wat jy verbrand, is jou metaboliese spoed. Namate ons ouer raak, is ons meestal minder aktief. Dit veroorsaak dat die liggaam al hoe minder energie verbrand.

Ons spiermassa begin reeds vanaf 30 jaar afneem. Dis ’n normale resultaat van veroudering. Jou spiere verbrand die meeste energie – selfs wanneer jy slaap – en moet konstant nutriënte en suurstof kry.

As jy spiermassa verloor, moet jy minder eet omdat jou liggaam se behoefte aan energie minder is. Indien jy dieselfde hoeveelheid energie inneem, word dit gestoor – wat tot gewigstoename lei.

Nutriënttekorte kan ook ’n invloed op jou metabolisme hê. Opsetlike verhongering forseer die liggaam om sy funksionering te verlaag. Indien dit ’n deurlopende tekort aan energie ondervind, sal die stelsels, oor tyd, daarby aanpas.

Dit is hierdie effek wat daartoe lei dat ons aan die begin met kitsdiëte vinnig gewig verloor en dan skielik geen resultate kry nie.

Om jou verteringsprosesse te versnel, moet jy beweeg. Forseer jou spiere om meer energie te verbrand. Wanneer jy oefen, moet jy veral aan daardie spiere werk wat, selfs wanneer jy nie oefen nie, energie verbrand en jou metabolisme versnel.

Eet gereeld. Kleiner, meer gereelde etes word aanbeveel. Laat jou toets en vul enige nutriënttekorte aan. Vermy medikasie wat jou metabolisme versnel. Tensy dit reg bestuur word, hou die newe-effekte altyd ’n risiko in.   

Carina Fourie Carina Fourie, dieetkundige
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Carina.