Hoe vertraag ek velveroudering?

339
veroudering

Danksy die mediese wetenskap is daar deesdae ’n wye verskeidenheid niechirurgiese behandelings om ’n gesonde, jeugdige gelaat te verkry.

Mikronaaldterapie (micro-needling) gebruik naaldjies – van 0,5 mm tot 1 mm lank – om klein gaatjies in die veloppervlak te maak en ’n gekontroleerde wond te vorm. Dit stimuleer die vorming van kollageen en bevorder produkpenetrasie.

Die metode kan plooitjies versag en vergrote porieë laat krimp, pigmentasievlekke herstel, ’n dowwe gelaatskleur verbeter en littekens, rekmerke en selfs selluliet verminder.

Die prosedure word met ’n velroller of naaldpen gedoen. Albei bevat dieselfde naalde, maar die pen kan makliker verstel word om ’n beter resultaat te verkry. Dit neem sowat 20 tot 30 minute en ’n verdowende room word voor die tyd aangewend.

Ná die tyd sal jou vel, weens die stimulasie, vir ’n paar dae rooi en effens geswel wees. Vir goeie resultate is dit nodig om meer as een behandeling te ondergaan.

[VIDEO] Hoe vertraag ek velveroudering?

Om van dooie, droë selle, ouderdomsvlekke en sproete ontslae te raak of jou vel se tekstuur te verbeter, kan jy professionele chemiese afskilfering oorweeg. Vermy meganiese afskilfering, veral as jy sukkel met aknee, aangesien dit meer skade as goed kan aanrig.

Die chemiese proses neem normaalweg 20 tot 30 minute en, tensy jy ’n dieper TCA peel laat doen, vereis dié metode nie hersteltyd nie.

Verskeie middels, onder andere alfa-hidroksiesure soos lactic-C, beta-hidroksiesure soos salisielsuur en die papaja-ensiem papaïen, word gebruik om sagkens die buitenste, beskadigde lae van die vel te verwyder.

Die bestanddele het elkeen sy eie doel, maar gesamentlik is die hoofdoel om voortydige veroudering te verminder, veltekstuur te verbeter en aknee te bekamp.

Karien Henrico, somatoloog
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.