Hoe weet ek iemand het depressie?

0
867
depressie.jpg

Almal was geskok om van Robin Williams se selfdood te hoor. Só kan ons depressie by ander raaksien en help.

’n Mens kan nie anders as om te wonder hoe iemand wat ons almal laat skaterlag het, met depressie kon worstel nie en dan so erg dat hy sy eie lewe geneem het.

Dit sê net een ding: Agter die rooi neus van Patch Adams en onder die lyfpak van Mrs Doubtfire was daar groot hartseer. Daar word nie verniet gesê dat narre hulle pyn agter hulle kaperjolle wegsteek nie.

Dis verstaanbaar dat jy graag iemand wil help wat swaarkry. Die probleem is net ’n mens weet nie altyd as iemand met depressie worstel nie. Jy sal regtig moeite moet doen en baie fyn moet oplet na die tekens sodat jy dit betyds kan herken.

Jy weet nie wat in iemand se hart omgaan nie

Dis menslik om jou emosies weg te steek. ’n Mens is bang om jouself bloot te stel; daarom bou jy dik mure om jou hart. Sê nou iemand gebruik jou swak punte teen jou of versprei sappige skindernuus oor jou? Jy vertel dalk vir iemand wat jy gedink het jy kan vertrou, dat jy as tiener bulimie gehad het, net om later te sien hoe almal vir jou kyk as jy die tweede koeksister eet – en daarna badkamer toe gaan!

Daarom bly jou wonde en vrese net daar, diep begrawe in jou hart. Dis eintlik baie sleg, want dit beteken dat die mense wat vir jou lief is, jou nie kan help nie. Net jy weet van die bitterheid wat jou van binne af opvreet. Bitterheid oor jare se mishandeling. Daardie groot hartseer. Die verslawing wat sy kloue in jou geslaan het.

Ons kan almal ons diepste gevoelens baie goed wegsteek. Geen wonder dat iemand onder ons neuse depressief kan wees sonder dat ons dit vermoed nie. Moet dus nooit aanvaar dat jou vriendin se “Goed, dankie!” beteken sy is piekfyn nie. Doen ’n bietjie meer moeite om goed te luister sodat jy die dinge kan hoor wat sy nié sê nie.

Party mense steek hulle hartseer agter ’n glimlag weg

Vra enige onderwyseres en sy sal vir jou sê die nar in die klas is gewoonlik die kind met die meeste hartseer. Dis baiekeer die outjie wat moet deurloop onder pa se houe of ma se skerp tong. Of dis die kind wat elke oggend honger skool toe kom omdat daar nie kos by die huis is nie.

In Spreuke 14 staan daar: “’n Mens kan lag terwyl hy treur…” Die kassier wat breed vir jou glimlag of die gemeentelid wat altyd grappies vertel, glo dalk dat lag die beste medisyne is. Maar dis nie altyd waar nie.

Ons moet moeite doen om by die glimlag en grappies verby te kyk tot binne-in die ander mens se hart. Daardie persoon wag dalk angstig dat iemand haar moet raaksien, al het sy so ’n traak-my-nie-agtige houding.

Depressiewe gevoelens kan iemand baie siek maak

“’n Kalm gemoed hou die liggaam gesond,” skryf Salomo. Jou liggaam verklap baie meer as wat jy dink. Iemand se swak gesondheid is gewoonlik ’n weerspieëling van wat in haar hart omgaan.

Jou kind lyk miskien op die oog af oukei, maar sy kla gedurig oor maagpyn of kopseer. Moenie net elke keer ’n pilletjie gee nie, probeer eerder agter die kap van die byl kom. Wanneer voel sy so? Hou haar olikheid verband met dinge wat by die skool gebeur?

Negatiewe emosies, soos jaloesie, kan jou vergiftig. As jy hierdie gevoelens nie oplos nie, kan dit tot allerhande skete lei. Dis gewoonlik die issues wat nie hanteer word nie wat jou siek maak, omdat dit in jou gedagtes bly rondmaal.

As jou man altyd vol lewenslus was, maar deesdae nie eers om die blok wil stap nie, is daar dalk fout. En as jou vriendin se dikderm vir die geringste dingetjie begin kramp, moet jy voorstel dat sy by ’n dokter uitkom. Wetenskaplike studies het bewys dat emosionele stres aanleiding kan gee tot lae bloeddruk, diabetes, depressie en selfs hare wat uitval.

Moenie volgende keer jou sesde sintuig ignoreer nie. Dit kan die Heilige Gees wees wat jou vra om iemand te help. As jy wakker genoeg is, kan jy dalk ’n lewe red.

Vertaal en verwerk uit The Tragedy of Depression van Eric C Redmond.