Hoe werk SBF– sonroom?

414
Hoe werk SBF-sonroom?

Spandeer jy ’n fortuin aan breëspektrum, hoë SBF-sonrome sonder om te vra hoe dit werk en of dit nodig is?

SBF (sonbeskermingsfaktor) bepaal hoe goed ’n middel jou vel beskerm teen UVB-strale wat sonbrand veroorsaak en tot velkanker bydra. Dit is egter nie ’n indikasie van beskerming teen UVA-strale – wat net so skadelik is en wat geassosieer word met velskade, -veroudering en plooie – nie.

Die SBF-syfer meet UVB-beskerming en is ’n aanduiding van hoe lank die ultravioletstraling sal neem om jou vel rooi te maak as jy die produk presies soos aangedui, gebruik.

So sal ’n SBF 15 byvoorbeeld, indien jou vel normaalweg 10 minute blootgestel kan wees voordat dit brand, jou toelaat om 15 keer langer (sowat 150 minute) in die son te bestee voordat jy brand.

Dis ’n rowwe skatting en hang af van jou veltipe, die intensiteit van die son en die hoeveelheid room wat jy aanwend.

Produkte met ’n hoër SBF bied nie beduidende beter beskerming nie. ’n SBF 15 blok 90% UVB-strale, SBF 30 blok 97% en SBF 50 blok slegs 98%. ’n SBF 30 bied dus slegs 4% meer beskerming as SBF 15. Die bestanddele in die hoër SBF kan ook nadelig wees vir jou vel.

Vir daaglikse aktiwiteite word ’n minimum SBF 15 aanbeveel. Indien jy egter gaan swem of sport beoefen, moet jy ’n waterbestande, breëspektrum SBF van 30 of 50 aanwend. Ongeag die SBF, is dit belangrik om die room mildelik (sowat 30 ml) aan te wend voordat jy uitgaan en dit elke twee uur, of onmiddellik nadat jy geswem het of as jy uitermatig sweet, te herhaal.

Karien Henrico, somatoloog
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.