Hoekom Amore nog nie getroud is nie

0
19
amore_bekker.jpg

Op 49 is Amore Bekker mooier, vietser en sprankelender as ooit. Waarom spog sy dan nie met ’n trouring nie?

Mense vir wie ek ontsettend lief was, het my gelos

Ek was altyd in verhoudings omdat ek liefde gesoek het. Hulle moes my beter laat voel. Maar maak nie saak hoeveel liefde ek gekry het nie, ek het nooit vervuld gevoel nie. Dan raak ek veeleisend: “Wys my jy is lief vir my. Jy sê dit nooit.” Uiteindelik skrik ek hulle af en dan los hulle my.
Dit was eers toe my kêrel, Robbie, vier jaar gelede in ’n vliegongeluk oorlede is dat ek die patroon in my lewe begin raaksien het van mans wat my los, my abandon. Robbie nou wel nie emosioneel nie, maar tog ...
Dit was vir my ’n groot deurbraak, ’n aha-oomblik!

Na baie terapie het ek die ironie van die liefde besef: Mense kan jou nie liefhê as jy nie jouself liefhet nie. Elke mens wat jy langs die pad kry, is ’n refleksie van wie jy is. As ’n kêrel jou los, is dit omdat jy jouself êrens langs die pad gelos het. As ’n man nie genoeg respek vir jou het nie, is dit omdat jy jouself nie genoeg respekteer nie. En as jy voel hy gee nie genoeg aandag aan jou nie, is dit omdat jy nie genoeg aandag aan jouself gee nie. Indien jy jouself genoeg respekteer, liefhet en vertroetel, maak dit nie saak of jy dit by ander kry nie.
Noudat ek terugkyk, is ek dankbaar vir hierdie mans wat my pad gekruis het. Destyds het ek gedink hulle is aaklig en besef nie wat ek werd is nie, maar eintlik is dit ek wat nie gedink het ek is iets werd nie.

[Pagebreak] Hulle was maar net die spieël om te wys dat ek dit nie vir myself gegee het nie.
Mense wil in verhoudings wees, want dit is lekker, maar verhoudings is daar sodat ons moet groei, en dis harde werk.

Ek moes leer om myself lief te hê

As daardie ou jou sleg behandel, is dit eintlik soos ʼn spieël wat voor jou hang en sê: “Luister, ek behandel jou sleg, want jy voel vere vir jouself.” Maar dit is natuurlik onbewustelik. Dit is driekwart van vroue se stryd: Hulle voel nie goed oor hulleself nie. Ek inkluis. Dit lyk miskien of ek nog altyd selfvertroue gehad het, maar ek moes kompenseer vir dit wat ek hier binne gevoel het. Ons almal slaap deur ons lewe en soek na liefde van buite om ons wakker te maak. Tot jy op ’n dag besef dit moet van binne kom. Ek moes letterlik leer om myself lief te hê.
Jy word gekondisioneer deur wat mense vir jou sê, oor jou sê, die media aan jou voorhou en die sprokies wat aan jou vertel word. Dis so subtiel dat jy dit nie eers agterkom nie.

Dit wat in jou kleintyd gebeur het, kom lê as ’n spoor in jou siel en jy dink: “Ek is nie oukei nie. Ek moet iemand kry om my te laat goed voel oor myself.” So word ons almal volwssenes met verskillende WONDE. Dan trou ons en word vasgevang in ongelukkige verhoudings, want ons kry nie die liefde waarop ons gehoop het nie. Nou wil ons die lewe aanpak met hierdie padkaart wat in ons brein gestoor is. Dis so goed jy wil Johannesburg met ’n 1965-padkaart aanpak. Jy moet jou brein herprogrammeer. Die perspektief en die sienings wat jy oor jouself het, moet verander.
Deur terapie het ek geleer om weer daardie klein dogtertjie in my te gaan soek, die een wat dink sy is dom en nie goed genoeg nie. Jy raak stil, en jou onderbewussyn sal vir jou die beeld oproep.

[Pagebreak] Onthou, dit is nooit te laat om ’n gesprek met haar te hê nie, om haar vas te hou en met haar te speel nie, want diep binne is jy nog steeds die dogtertjie wat daarna smag om beter te voel. Ek het ’n kiekie van myself op daardie ouderdom op my bedkassie.

Dit is fantasties hoe die onderbewuste werk. Voor ek geweet het ek moet na die klein dogtertjie binne my gaan soek, het ek begin Nik Naks eet asof dit uit die mode gaan. Al hoe ek dit kan verklaar, is dat jou onderbewuste jou neem na daardie een wat op daardie oomblik die seerste het. In my geval was die klein Amore gek oor Nik Naks. Dit was vir my lekkerder as sjokolade! Ek moes leer om kritiek te hanteer deur empatie te hê met die een wat dit uitdeel. Dit het ek gekry toe ek besef het daar is net twee redes waarom mense dinge doen. Die oermotief vir mense se woorde en handelinge is óf liefde óf vrees. As iemand iets vir jou sê wat jou seermaak, weet dat dit vanaf vrees kom. Deur empatie te hê, kan jy begrip kry vir sy situasie. Selfs al maak mense se woorde jou seer, kan jy besef daar is ’n boodskap vir jou daarin.

Ek het begin eet en praat

Nog ’n manier om jouself te ontdek, is om terug te keer na jou passies – dit wat jy wou geword het toe jy klein was. Klein Amore het nou wel nie gekook nie, maar sy het gepraat. En praat praat ek nog steeds. Ek sorg ook dat ek goeie kos eet. Wanneer ek kook, gebruik ek goeie bestanddele en sal dikwels ’n pêl oornooi.
Natuurlik mag jy soek vir ’n sielsgenoot, maar onthou, daardie sielsgenoot gaan jou spieël wees, om vir jou te wys waar jou wonde lê. Hy of sy kan jou nie heelmaak nie, jy kan dit slegs self doen. Wees dapper, en sê dankie.

Ek het na liefde gesmag, ’n begeerte gehad na Mnr. Reg. In my soeke het ek die regte een gevind – en daardie een is ek!