Hoekom gaan ek kerk toe?

Terwyl ek vanoggend regmaak vir kerk, kom die vraag skielik by my op: Hoekom gaan ek kerk toe?

Omdat ek lief is vir die Here. Omdat dit vir my lekker is. Omdat ek hou van die gemeenskap van gelowiges, die musiek. Omdat ek so baie daar leer. Omdat ek tuis voel daar.

Die voorsang het net begin toe ons instap en die eerste wat die dominee sê, is van iemand anders wat sê dat, noudat hy ouer word, hy al hoe dankbaarder word dat hy gered is. En ek dink: Dís hoekom ek kerk toe kom, om herinner te word aan basiese waarhede.

Die skriflesing kom uit Lukas 10 en ek hoor dat dat daar ‘n gejuig in die hemel is as iemand tot bekering kom, en meer nog, dat wanneer ons die Evangelie op aarde verkondig, satan sy krag verloor in die geesteswêreld. Ons leer dat dit belangrik is om God se werk hier op aarde te doen, maar dat ons verhouding met Hom selfs belangriker is.

Daarom gaan ek kerk toe, om ingeskakel en aangeskakel te bly, om kernwaarhede te leer, om my geloof te verdiep, om te besef dat ek my deel hier op aarde moet doen.

Net voor die diens klaar was, het die uitreikspan teruggekeer uit Msinga en vining kom rapporteer dat dit goed gegaan het. Dís hoekom ek kerk toe gaan, om deel te wees van sulke gebeurtenisse. Vreugdevol, tot eer van God.

Ons stap uit die kerk en daar is ‘n reënboog. Sy een punt begin by die kerkgebou en ek onthou van God se wonderlike beloftes. Hy is getrou.

Wat ‘n voorreg om in vryheid kerk toe te mag gaan en God te mag aanbid sonder die vrees vir vervolging. Mag ons dit altyd koester en nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.

Groetnis

Toortsie