Hoekom is dieet moeilik?

397

Sukkel jy met ekstra rolletjies om die middel en bolyf? Dit kan ’n teken van ’n ernstige siektetoestand wees.

Het jy al jou insulienvlak laat toets? Insulien is die hormoon wat die glukose (suiker) in jou bloed reguleer. Glukose is die liggaam se hoofbron van energie.

Insulien en bloedsuiker is nie dieselfde ding nie. Wanneer jy koolhidrate eet, breek dit af in suiker, wat deur jou liggaam opgeneem en gebruik word om energie te voorsien.

Hoe meer glukose daar in jou bloed is, hoe meer insulien is nodig om dit te reguleer.

’n Wanbalans veroorsaak dat die selle die werking van insulien begin teëstaan. Dan moet jou die pankreas oortyd werk om van die oortollige voorraad suiker ontslae te raak. Dit wat nie verwerk word nie, word as vet gestoor.

Gewigstoename dra by tot weerstandigheid, wat weer op sy beurt tot vetsug lei. In baie gevalle is oefening en ’n lae-GIdieet genoeg en kan dit die situasie selfs omkeer, maar soms is medikasie nodig.

Kos met ’n hoë suikerinhoud laat die bloedglukosevlak vinniger styg. Deur verfynde kossoorte te verminder, verhoed jy dat jou liggaam heeltyd insulien moet produseer.

Dit beteken nie dat jy dit heeltemal moet uitskakel as dit nie vir jou volhoubaar is nie, maar kies eerder lae-GI-opsies. Dit help ook om met een ete stysel te vermy.

Jou insulienvlak, voorgeskrewe medikasie en oefenprogram bepaal die hoeveelheid koolhidrate wat jy per dag nodig het.

Dit is raadsaam om dit deur die dag te versprei om die glukosevlak beter te reguleer. Maak voorsiening vir een tot twee porsies stysel per ete, gekombineer met proteïene.

Peuselhappies moet liefs ook proteïene insluit. ’n Vrug met twee eetlepels neute of ’n handjievol biltong sal jou suiker beter reguleer as net die vrug op sy eie.

Kliek vir Carina se video oor hoe om jou realistiese teikengewig te bepaal.

Carina Fourie, dieetkundige
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Carina.