Hoekom is getroude/geskeide vroue só gebroke?

Laasweek het ek ՚n boodskap met ՚n paar vroue by ՚n profetiese kunswerkswinkel gedeel. Ons het ter inspirasie van die borsplaat van geregtigheid op hemde geverf.

Die borsplaat beskerm die hart en ek lees toe Spreuke 4:23 en Deuternomium 6:4 (wat ook herhaal word in Matteus 22:37, Markus 12:30 en Lukas 10:27). En ek vra hulle só: moet ons ons mans ook lief hê met ons hele siel en verstand?

God het van die begin af geweet dat géén mens die las van ՚n ander mens se totale liefde kan dra nie. Omdat mense faalbaar is, is dit gewaarborg dat jy bitter, bitter seer sal kry as jy iemand lief het met jou hele wese. Dis hoekom ons ons naaste moet lief hê soos onsself: wat steeds beteken God eerste, ek tweede en my naaste derde. (Want ‘soos jouself’ beteken jy moet jouself reeds lief hê.)

Mans en vrouens se breins is ook anders bedraad. As ons dieselfde was en dieselfde behoeftes gehad het, sou God Sy tyd gemors het om twee geslagde te maak? Mans se hoof behoefte is mos om gerespekteer te word (die male ego, hint-hint lol) en vroue om lief gehê te word.

So nou gaan hê ՚n vrou haar man lief met alles in haar en hy verraai haar (op watter manier ook al). Sy vertel vir haar vriendinne: “Ek het hom met my hele hart lief gehad, maar hy het dit in my gesig terug gegooi”. Vrou – vandag gaan ek jou sê as jy jou man lief het met jou hele siel en verstand, dat jy van hom ՚n afgod gemaak het. Want dáái tipe liefde kom net God toe.

As ons begin besef dat ons mans nie veronderstel is om ons héle hart, siel en verstand in besit te hê nie, sal ons nie so verpletter en absoluut amper op die punt van uselessness beland as hulle ons verraai nie. Dit gaan seer wees, maak geen fout, maar ons gaan weer kan aangaan met die lewe.

Spreuke 4:23 sê nie verniet dat ons ons harte moet beskerm nie. Ja, as ons liefde het vir mense het ons ons grootste (menslike) opdrag onder die knie, maar ons kan en moet nie vir God en mens in dieselfde kategorie sit in ons harte nie. Want ons GAAN bitter seer kry en dan nog tien-teen-een vir Hom ook kwaad wees daaroor.

Wat die res van ons gesinne aanbetref (kinders veral): indien daar iemand is waarsonder jy absoluut nie sal kan lewe nie, het jy daai persoon ook moontlik verafgod.

In ՚n lewenstydperk waar mense die liefde omtrent ՚n religion van sy eie maak, moet ons ons harte begin beskerm en besef dat God nie verniet vir ons die resep van liefde in Sy Woord neergepen het nie.

Vorige artikel[VIDEO] Weet wat jou maat nodig het
Volgende artikelMy bid is op, Here
Blogger - Gina van Staden
Gina van Staden is 'n uit-die-boks denker wat daarvan hou om moeilike lewenskwessies aan te spreek. Sy is 'n tuisskool ma, privaatonderwyseres, joernalis, kunstenaar en voltydse dienaar van Christus. Hoe kry sy alles gedoen? Maklik. Deur te prioritiseer. Sy leef haar Goddelike passie vir vroue uit deur haar bediening, Fireball Ministries. Vrouekampe, kunswerkwinkels en saamkom geleenthede sit die vuur op haar vlam. Die bediening is ook 'n geregistreerde niewinsgewende organisasie wat omgee oor seniorburgers se voeding. Sy deel haar lewe met haar man en kinders en kan beslís nie kla dat die lewe ooit eentonig of oninteressant is nie!