Hoekom is getroude mans onttrou?

0
23
verneuk.png

Hoekom dwaal sy oog, en erger nog hoekom sukkel mans om getrou te bly.

As jy snoesig in jou wete is dat dit net mans met onopwindende (huis) vroue is wat hul vrouens verkul, dink weer! ’n Vriendin vertel hoe sy in September verlede jaar in Buenos Aires op ’n toerbus saam met ’n boere-“studiegroep” van Noordwes beland het.

Na ’n sambadansvertoning, spesiaal vir toeriste, het van die mans kru taal rondgeslinger en duidelik hul “lus” laat blyk vir meer as net ’n vertoning!

Hoekom? Want vroulief was nie naby nie en wat die oog nie sien nie, sal die hart nie breek nie.

Hoekom verkul hy jou?

Huweliksberaders sal waarskynlik sê omdat hy tuis ’n vrou het wat altyd luister na sy menswees. Maar selfs sulke verhoudings word geteister deur mans wat rondloop. En dan is die “verraad” selfs groter.

Hoewel ’n groot deel van die egskeisyfer in Suid-Afrika (twee uit elke drie huwelike) hieraan te danke is, is die vraag so universeel en so oud soos die mensdom: Why do men cheat?

FW de Klerk skryf in sy biografie, Die laaste trek: “Ek aanvaar my volle deel van die skuld vir die mislukking van ons huwelik. Ons het baie jare lank ’n goeie huwelik gehad. Ek het Marike liefgehad. Sy was ’n goeie vrou en moeder en ook ’n lojale metgesel. Ek is innig jammer oor my rol in die pyn en lyding wat ons almal moes verduur. 

In FW se geval was dit liefde sonder weergawe en hy en Elita is kort na die egskeiding op Onrus getroud.

Die serial verneuker

Kenners sê dat amper 75% van getroude mans al in ongeoorloofde verhoudings betrokke was. As hierdie syfers geglo kan word, beteken dit dat drie uit elke vier getroude mans hulle hieraan skuldig maak. Nog ’n onrusbarende feit is die waarheid oor the seven year itch. Die jongste navorsing toon mans kul reeds binne die eerste drie jaar van hul huwelik en nie eers na sewe jaar soos wat altyd geglo is nie.

Verhoudingskenners meen dit is vandag veel makliker om ’n skelm verhouding te hê as vroeër. Tegnologiese vooruitgang wat e-pos en selfone insluit, is grootliks hiervoor verantwoordelik. ’n Man kan nou 24/7 met sy minnares in verbinding wees terwyl sy lewensmaat salig onbewus is.

Michael Baisden skryf in sy boek, Never Satisfied: How & Why Men Cheat, dat die werkplek ’n ontmoetingsplek vir voornemende egbrekers geword het. Hy benadruk egter dat die rede hoekom mans kul, steeds dieselfde is as dertig jaar gelede: Hy wil of kan nie die seksuele impuls of uitnodiging beheer nie.

Hoewel ongekompliseerde seks altyd een van die redes vir egbreek sal wees, lê die oorsaak dikwels by sy huidige verhouding tuis, waarsku Dr. Darlene Powell Hopson, skrywer van die boek, Friends, Lovers and Soulmates. “Van die grootste aandele wat ons as vroue tot ons mans se ontrouheid het, is die feit dat ons dit toelaat. Vroue trou met mans wat hulle reeds in die verhouding verkul het, ten spyte van die kans dat hy dit in die huwelik weer sal doen. Is daar soveel alleenheid onder vroue dat hulle hul standaarde onwetend verlaag om die alleenheid hok te slaan?” vra sy.

Die boereverneuker

Seks is die groot skelwoord onder veral Afrikaanse mans. “My vrou voldoen nie aan my seksuele behoeftes nie … Sy is koud … of: Om oor seks te praat, is taboe in ons verhouding,” word deur rondlopers gelug. Mans trek ook maklik ’n lyn tussen hul “goeie” vrou tuis en die “maklike” minnares elders. So het hulle gemaklik die beste van twee wêrelde. Hierdie tendens is besig om deel van ons kultuur te word, sê ’n verhoudingskundige van Kaapstad.

“Afrikaanse mans word grootgemaak met die waardes en tradisies wat reeds geslagte lank voorgehou word as die ideaal. Jy trou met ’n ‘goeie vrou’. Kommunikasie oor seks is ongeoorloof. Selfs vroue is in die verlede grootgemaak met die gedagte dat seks nie iets is wat geniet moet word niel.”

Afrikaanse vroue voel ook dikwels bedreig deur dinge in hul mans se lewens wat totaal onskuldig is. Die gevaar is eerder op die plekke waar ’n mens dit die minste verwag, sê sy. Die kanse dat jou man egter by so ’n geleentheid soos ’n rumparty sal oortree, is skraal. Die werklike gevaar is eerder die suksesvolle kollega wat jou man in die raadsaal aantref.

Iemand by wie hy aanklank vind nadat julle mekaar vanoggend vinnig gesoengroet het, jy op pad skool toe met die kinders en hy op pad werk toe …

Jy hoef hom nie te los nie

Darleen sê dat ’n buite-egtelike verhouding nie noodwendig die einde van ’n huwelik hoef te beteken nie. Baie paartjies vind bevryding in die “verraad” deurdat dit hulle dwing om hul lewens te heroorweeg. “Dit is ’n leer- en groeiproses waarin daar geen kortpaadjies of gewaarborgde suksesse is nie,” vertel sy. “’n Man moet van vooraf geleer word hoe om aggressiewe aandag van vroue af te weer en verder as nou en hier te dink. Belangriker as dit is egter opregte berou. En praat met mekaar, sê sy. Wees bo alles beste maats. Die huwelik moet nooit jul vriendskap vervang nie … en trek gerus so nou en dan daardie stoute stiletto’s nader!