Hoekom is hidrasie noodsaaklik?

hidrasie

Om te verseker dat ons vel ons liggaam beskerm teen UV-strale, mikro-organismes en toksiese middels, moet dit voldoende bevogtig word.

Dehidrasie is ’n toestand wat deur ’n tekort aan water veroorsaak word. Beide droë en olierige vel word hierdeur geaffekteer, alhoewel die olierige tipe, eienaardig genoeg, gewoonlik die maklikste vog verloor.

’n Verlies aan vloeistowwe veroorsaak ’n skubberige of growwe voorkoms met fyn oorkruis lyntjies en plooitjies wat verskyn as daardie deel van die liggaam beweeg.

Oormatige blootstelling aan die son, hitte of humiditeit of die gebruik van verkeerde produkte, oorywerige reinigingsmetodes, medikasie, rook of die gebruik van alkohol kan tot oormatige waterverlies bydra.

Dit kan lei tot ’n oppervlakkige of diepliggende probleem. Eersgenoemde is ’n ligter, minder opsigtelike toestand. Dit affekteer net die boonste lagies van die vel, en laat dit ’n bietjie grof en styf voel.

Ernstiger dehidrasie word dikwels veroorsaak deur interne skok, siekte, stres, natuurlike veroudering, menopouse en selfs narkose. Dit lei tot vroeë veroudering en die degenerasie van kollageen. Die vel verloor sy kapasiteit om vloeistof te behou en die dieper lae verloor fermheid.

Produkte wat ’n goeie hialuroonsuur bevat, sal jou vel vinnig weer plomp en glad laat lyk. Die suur het ook antiinflammatoriese eienskappe, wat genesend en strelend werk, en fyn lyntjies en plooie vul.

As jou selle die maksimum hoeveelheid hidrasie kry om optimaal te funksioneer, kan dit toksiene doeltreffender beveg en wegspoel. Dit verbeter ook elastisiteit en soepelheid, wat die voorkoms van plooie verminder.

Maak seker dat jou vel gesond bly.

Karien Henrico, somatoloog
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.