Hoekom is jy hier

En as ek opstaan, tref die gedagte my, dis net genade. Alles wat ek maar as vanselfsprekend aanvaar, ‘n blote gawe…

Die lied sing in my hart die dag na die kleure atletiek. Nie oor podium plekke nie, maar omdat ons kinders in ‘n skool kan wees waar almal in die sandput kan spring, die meeste wel oor die hekkie kan kom en almal kan hardloop.

Ek hou van interhuis atletiek en doen moeite om daar te wees. Ter wille van my kinders maar ook omdat ek hou van sport en van deelname.
Ek verkyk my aan die mengelmoes van geel, blou en wit hempies. Daar is die kompeterendes, die wat hoop en die wat net deelneem bloot vir ‘n punt vir hul span.

Vir sommige kinders kom dit net meer natuurlik. Medaljes in elke item. In sommige huise blink albei kinders uit, in ander is daar weer die uitdaging wanneer een presteer en die ander sukkel. Ek hoor hoe ‘n dogtertjie tranerig by haar mamma pleit dat sy net een medalje wil hê. Wanneer sy uitval hang die skouers en sien ek hoe die mamma trane wegvou in haar arms. Teleurstelling op teleurstelling. Deel van die lewensskool.

Hoe verduidelik jy dat dit ‘n gawe is net omdat jy kon en ongeag van hoe goed jy is?
Hoe verduidelik jy dat sommige wurmpies eers later skoenlappers word?

Jy vou toe in liefde.
Jy vertroetel die mooi in die hartjie.
Jy moedig aanhou probeer…
Dan lees jy saam met jou kind Psalm 139. “Ek het jou op ‘n wonderbaarlike wyse geskep” (vers 14)
Dis dieselfde God wat in Jesaja 43: 1 sê – Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne.

Wanneer ons leer dat ons voluit kan leef deur die genade wat God aan ons toevertrou….kom ons by Sy opdrag uit Jeremia 29: 7 (vry vertaal):
Bevorder die belange van die plek waar jy  is.

Die boodskap raak universeel. Nie meer net vir ons kinders nie maar vir elkeen wat wonder of hy goed genoeg is en waar hy inpas:

Sien jouself deur God se oë. Spesiaal gemaak. Vry gemaak van die dinge wat vir ander belangrik is. Hier geplaas om ‘n verskil te maak.