Hoekom vas?

Ek is nie iemand wat vreeslik aan tradisie vasklou of goed doen bloot omdat dit iets is ‘wat ek altyd doen’ nie. Maar iets wat ek wél doen sonder faal is om elke jaar vanaf 1 – 21 Januarie te vas.

Baie mense verstaan nie hoekom nou juis óp Nuwejaar nie, maar vas is ʼn opoffering ook. Dit sal eintlik vir my gemakliker wees om later in die maand te begin, maar ek is oortuig daarvan dat God my determinasie sien.

Die Daniël vas is vir my soos ʼn warrior vas. Ons weet dat Daniël en sy soldate net van die land gelewe het en water gedrink het – geen vleis of koningklike lekkerhede nie (gaan lees daaroor in Daniël). En tóg was sy vegters sterker en gesonder na die vas.

Elke jaar voel vir my soos ʼn oorlogsveld waarvoor ek gereed moet maak. Voorbereiding, strategie, ens. Dis gedurende hierdie 21 dae wat ek ʼn tipe van ʼn bloudruk kry van God se plan vir die jaar vorentoe.

Hoekom vas ʼn mens?

Want jy ontgun jouself van vleeslike plesier sodat jy vir God kan wys hoe ernstig jy ʼn saak voor Hom werp. Ons vas vir onder andere deurbraak, antwoorde, rigting, om net náder aan hom te beweeg en Sy teenwoordigheid te ervaar. Is dit manipulasie? Nee. Want God het self die vas geskep.

Hoe vas ʼn mens?

Jy kan vol of gedeeltelik vas vir ʼn spesifieke aantal tyd. Sommige mense eet en drink vir ʼn bepaalde tyd glad nie, sommiges net groente, vrugte en water en ander het ʼn persoonlike saak met God aan en vas iets wat van baie waarde is vir hulle of baie tyd in beslag neem (byvoorbeeld sosiale media, koffie, lekkergoed ens.). Die Bybel is die beste riglyn – gaan lees meer daaroor.

Vas is nie ʼn dieët nie, so moenie ‘cheat’ nie. En moet dit ook nie as ʼn motiveerder gebruik om gewig te verloor nie – God sien ons harte. (As jy wil dieët, dieët dan eerder en vra God om jou te help.) Vas sonder bid is ook dieët…

Die punt van ʼn vas is om God se aangesig in erns te soek. Om só sensitief vir Sy teenwoordigheid te wees. As Hy dit op jou hart gedruk het om te vas, neem die stap. Jy het alles om te wen.

Vorige artikelDie begeertes van jou hart!
Volgende artikelMaria
Blogger - Gina van Staden
Gina van Staden is 'n uit-die-boks denker wat daarvan hou om moeilike lewenskwessies aan te spreek. Sy is 'n tuisskool ma, privaatonderwyseres, joernalis, kunstenaar en voltydse dienaar van Christus. Hoe kry sy alles gedoen? Maklik. Deur te prioritiseer. Sy leef haar Goddelike passie vir vroue uit deur haar bediening, Fireball Ministries. Vrouekampe, kunswerkwinkels en saamkom geleenthede sit die vuur op haar vlam. Die bediening is ook 'n geregistreerde niewinsgewende organisasie wat omgee oor seniorburgers se voeding. Sy deel haar lewe met haar man en kinders en kan beslís nie kla dat die lewe ooit eentonig of oninteressant is nie!