Hoekom verouder Franse vroue nie?

0
39
franse.jpg

Wonder jy ook watter skoonheidsgeheim Franse vroue het? Hulle kry dit dan reg om nie oud te lyk nie!

Daar is baie faktore wat daartoe bydra dat Franse vroue jonger lyk as baie ander vroue van Europese afkoms. Genetika, hul modebewustheid, die feit dat hulle siestas neem en minder stres, is van die redes. Die natuurlike antioksidante soos Resveratrol wat voorkom in rooiwyn, waarvoor die Franse so lief is, speel moontlik ook ’n rol. Maar alhoewel veroudering nie eers Franse vroue ontsien nie is dit net asof hulle ’n natuurlike vermoë het om beter na hulself te kyk.

Skoonheid is ’n natuurlike, genotvolle ritueel

Een van die belangrikste geheime van Franse vroue is dat hulle skoonheid nie as werk sien nie. Dit is ’n daaglikse noodsaaklikheid. Iets wat hulle wíl doen. Hulle het ’n manier gevind om vel-, haar- en lyfsorg as ’n genotvolle, natuurlike ritueel te vier. Dit is in teenstelling met die meeste vroue wêreldwyd, wat dit as nog ʼn moeisame takie op ’n doen-lysie beskou.

Skoonheidsgeheime van geslag tot geslag

Daar is ’n onbewuste wete by Franse vroue dat hul oumas se raad steeds die beste is en daarom hou hulle daarby. Sekere voorkomsreëls word van klein af by jong meisies ingedril:

  • Hulle verstaan die gesondheidsvoordele en -risiko’s van die son selfs al is dit die flouer Europese son. Hulle dra sonskerms en kies bevogtigers met ’n gepaste sonbeskermingsfaktor (SBF). Alhoewel hulle meestal die skaduwee opsoek, geniet hulle dit net so baie om tyd in die son deur te bring en die voordele daarvan te geniet. Stap of rustige sport vorm deel van hulle weeklikse roetine.
  • Dit is ʼn ongeskrewe reël dat Franse vroue altyd aantreklik en versorg moet lyk.
  • Hulle weet dat hidrasie die sleutel tot gesonde vel en hare bly. Water is die geheime wapen vir skoonheid en gesondheid. Dit help om van gifstowwe ontslae te raak en om gewig te beheer.


Velsorg is baie belangriker as grimering

As jy daaraan skuldig is om jou vel te probeer wegsteek en toepleister met grimering, kan jy heelwat by Franse dames leer. Vir vroue van hierdie land is goeie velsorg baie belangriker as grimering. Grimering is nie iets waarmee jy toemaak en wegsteek nie, maar eerder ’n beloning vir ’n gesonde vel.

Van ’n jong ouderdom af probeer hulle op die beste moontlike manier na hulle velle om te sien. Die beginsel is dat jy die beste moontlike behandelings gebruik, sodat jou vel later weer goed sal wees vir jou. Dit gaan alles daaroor om terug te kry wat jy gegee het.

Groot klem word op gereelde reiniging gelê. Hulle glo ook daaraan om hul velle soveel moontlik te hidreer en te voed. Die eenvoudigste velsorgroetine werp vrugte op die langtermyn af. Net basiese daaglikse bevogtiging is ’n uitstekende teenverouderingsmetode. As jou vel meer gehidreer is, word emosielyne nie so diep in jou vel “afgedruk” nie. Maar vir enige produk om effektief te wees is dit nodig dat jy dit daagliks aanwend.

Lees ook: Jou 4 grootste grimeerfoute

Té veel behandelings kan jou vel benadeel

Franse vroue gryp nie na die nuutste giere en foefies nie. Inteendeel, hulle vermy vreemde skoonheidsprodukte en hou by bekender en betroubare middels. Dat minder meer is, is ’n beginsel waarin Franse vroue glo. Soms is dit beter om jou vel met rus te laat as om dit uitermatig te skrop en chemies af te skilfer. Dit beteken nie dat hulle wegskram van kosmetiese verbeterings nie. Allermins – dit word verwelkom. Gereelde spabehandelings gekombineer met mesoterapie (’n Franse uitvinding), Botox, vullers en laserbehandeling is deesdae baie aanvaarbaar.

Balans is die wagwoord anders kan jou vel oorgestimuleer word deur produkte en behandelings. Dié toestand, wat as status cosmeticus bekend staan, kan jou vel uiters sensitief laat sodat veroudering vinniger gebeur. Hierdie velle is meer kwesbaar is vir die aanslag van besoedeling, son en ongesonde gewoontes. Natuur moet soms sy gang gaan en velle moet gelos word om hul eie ding te doen.

Velsorg eindig nie by jou nek nie

Raak jy angsbevange sodra dit somer word omdat jy heimlik weet dat jy jou lyfsorg gedurende die koue maande afskeep? Franse vroue is baie bewus van liggaam- en borssorg – iets wat Suid-Afrikaanse vroue dikwels verwaarloos. Hulle glo dat ’n vrou altyd moet trots wees op haar bates. En alhoewel dit nie sigbaar is nie, is dit steeds jou geheime wapen wat versorg moet word.

Nog iets wat Franse vroue besef is dat goeie sirkulasie jou laat gloei. Hulle is nie bang om koue en warm storte af te wissel om hul porieë oop en toe te maak nie. Dit skok ook jou senuweestelsel en maak jou brein wakker. ʼn Ordentlike afdroog en vryf met ’n handdoek na ’n stort laat jou vel gloei.