Hoop na ’n affair

0
77
Gretha Wiid

As jou huwelik al ontrouheid moes trotseer, weet jy dis een van die seerste dinge in die lewe. Maar daar is hoop – dis moeilik, maar moontlik.

Huwelikkenner: Gretha Wiid

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Elke vrou se klein boekie oor seks

Elke vrou se klein boekie oor seks sal jou antwoorde gee op die vrae wat jy te bang is om te vra. Julle sal leer hoe om die verskille tussen julle te oorkom en jou en jou man se lyf lief te kry. Beleef die intimiteit wat julle huwelik gelukkig sal maak!

Kliek HIER en laai hierdie e-boek GRATIS af.

lyn_3.png

As jou huwelik al ontrouheid moes trotseer, weet jy dis een van die seerste dinge in die lewe. Maar daar is hoop – dis moeilik, maar moontlik.

Ek weet uit eie ondervinding dat twee mense wat regtig lief is vir mekaar, opreg jammer is en by die wortel van die probleem uitkom, ’n sterker huwelik kan hê as voor die buite-egtelike verhouding. Om by hierdie punt te kom, is daar ’n pad om te stap…

As jy ontrou was, dra die gevolge

Wanneer jy nie jou owerspel bekendmaak nie, is die leuen elke oomblik in jou huwelik teenwoordig. Elke keer wat jy sê jou hele hart is in die huwelik, gaan Satan jou aankla: “Ek wonder hoe hy sou voel as hy die waarheid weet?” As hierdie waarheid jou ongemaklik maak, dink dalk hoe dit sou voel as die bordjies verhang was.

Dis verkeerd om van jou huweliksmaat te verwag om te vergewe en verder te gaan as jy nie heeltemal met die affair klaarmaak nie. Die mate van werklike berou het ’n direkte uitwerking op die mate van vergifnis. As jy net spyt en jammer klink, maar nie werklik berou het nie, sukkel die ander party net méér om die pyn te hanteer.

Wen weer jou maat se vertroue deur meer as ooit tevore eerlik, openhartig en deursigtig te wees. Van jou foon se geheime kode tot die mense saam met wie jy kuier, moet ’n ope boek wees. As die idee belaglik klink, want jy is mos nie ’n kind nie, onthou: Jy het jou bed gemaak, en jy moet daarop slaap.

BLOG: Die taal wat die liefde praat

As jy kies om te vergewe, doen dit sonder voorwaardes

As jy die slagoffer van egbreuk is, wees versigtig om jou pyn met ander te deel, veral aan die begin, terwyl julle nog in die proses van genesing is – selfs met familie en vriende. Dit gee hulle onnodig rede om die skuldige te veroordeel en raad en opinies aan te bied, wat uiteindelik net verwarring veroorsaak.

Logika gaan jou probeer oortuig daar is net vrede te vind as jy al die detail van die affair ken, en alles weet van wat gesê en gedoen is. DIT IS ’N LEUEN! Glo my, dis die detail wat jou uiteindelik snags sal laat wakker lê. Die prentjies bly spook, en dis ’n stryd om daarvan ontslae te raak.

Wanneer julle baklei, gebeur dit maklik dat die ontrouheid as ’n slaanstok gebruik word. As jy jou maat kort-kort (met elke rusie) herinner aan wat hy gedoen het, kan géén woorde ná die tyd daardie oomblik uitvee nie. Jou vlees wil hom seermaak soos jy seergekry het, maar dit gaan beslis die huweliksbootjie laat sink. Dis moontlik om hierdie hekkie te oorkom deur stil te raak en te kies om oorwinning in jou huwelik te smaak.

Jou maat het ook seer en sukkel dalk met meer selfverwyt as wat jy besef. Ek weet jy het bitter seergekry, maar dis moontlik om genade te kies. Wraak kelder net ’n huwelik.

Die oorlog in jou kop is waarskynlik die grootste vyand. Proklameer julle genesing, al voel jy dit nie. Spreek oorwinning, al sien jy dit nog nie!

Gee klein treetjies in die genesingsproses

Om by die oorsaak van ’n affair uit te kom is nie iets wat ’n paartjie sommer self regkry nie. Dit lei heel dikwels net tot meer verwyte en dieper seer. Om hulp te kry gee afsluiting en selfs ’n nuwe visie. Gaan sien ’n opgeleide persoon wat julle kan help om sinvol te praat, te luister en mekaar se harte te hoor.

Genesing gebeur nie oornag nie. Dis ’n lang pad met baie trane, klein oorwinnings, baie harde werk, dag vir dag vertroue wen, weer en weer vergewe en diep gesprekke. Twee mense wat opnuut veg vir hulle huwelik, is ’n wonderlike gebeurtenis!

In 90% van alle buite-egtelike verhoudings gaan dit nie oor wát die skuldige vir die ander persoon gevoel het nie, maar eerder hóé hy of sy by daardie persoon gevoel het. Maak seker jou maat voel van nou af só… by jóú!

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Soetgoed vir die Siel, geskryf deur Susan Coetzer.

Soetgoed vir die siel is ‘n samestelling van drie van Susan Coetzer se verhale oor die soeke na soetgoed vir jou siel. Die 3 boeke in 1 sluit in: Oros vir die Siel, Custard vir die Siel en Tjoklits vir die Siel. Kliek hier om die boek te bestel.

lyn_3.png