Hoor die hoenders

Terwyl ek eendag tuis oor die foon gesels, vra die persoon met wie ek gesels of ons hoenders aanhou, want hy hoor die hoenders kekkel in die agtergrond.

Hy het jare laas hoenders hoor kekkel en hulle gekekkel klink so mooi en skep sommer ‘n besondere atmosfeer. Ek verduidelik toe dat ons nie hoenders het nie, maar ons buurvrou oorkant die straat wel.

Na die oproep raak ek stil en luister ook ‘n slag weer na die buurvrou se hoenders. Ons het so gewoond geraak aan die hoenders se gekekkel dat ons hulle nie eens meer hoor nie. Selfs die haan se gekraai vroeg soggens is maar net nog ‘n geluid in die mengelmoes van die menige stadsgeluide. Wat iemand anders as kosbaar ag, het vir ons alledaags geraak.

Dit het my ook teruggeneem na die tyd toe ons kinders nog klein was en ons vir my ouers op die plaas gaan kuier het. Oppad plaas toe het hulle dikwels beeste, skape en perde langs die pad gesien en in verwondering gewys wanneer hulle die diere gewaar het. Ek het op ‘n plaas grootgeword en diere op ‘n plaas was vir baie jare deel van my bestaan. Ek het alles op die plaas as vanselfsprekend aanvaar. My kinders se ervaring van die diere het my egter laat besef hoe bevoorreg ek was om die plaaslewe te ervaar.

Dit gebeur dikwels dat ons ons gesinslede, familie, vriende en kollegas ook sien as dat hulle maar net deel van die prentjie is. Hulle is daar, maar ons sien hulle nie raak vir wie hulle is nie. Dit is nie dat ons hulle nie waardeer nie, dalk net ‘n geval dat ons nie meer elkeen se unieke karaktereienskappe duidelik raaksien en regtig besef hoe vol hulle ons lewens maak nie.

Jesus het min of meer dieselfde ervaar toe hy in sy tuisdorp Nasaret probeer preek en wonderwerke doen het. Die inwoners het hulle self afgevra of Hy dan nie die seun van die skrynwerker was nie. Hoe kon hy dan nou vir hulle kom preek en wonderwerke doen. Hulle het nie vir Jesus gesien vir wie Hy was nie. Vanweë hulle ongeloof in Hom kon Jesus weinig wonderwerke daar doen.

Maar wat versoorsaak dat ons dikwels nie mense en dinge raaksien of hoor nie, terwyl juis daardie mense en dinge vir ons belangrik is?

Dalk kan ons dit toeskryf aan die spoed (rat race) waarteen ons lewe. Dikwels laai ons te veel hooi op ons vurk want ons glo ons moet alles en nog wat doen anders gaan die lewe by ons verby snel. Ons vergeet dan dikwels dat dit nie die groot goed is wat belangrik is nie, maar die klein goedjies. Salomo, in al sy prag, het dit so mooi gestel toe hy gesê het dit is alles net ‘n gejaag na wind.

Of dalk is dit ons onvermoë om stil te kan raak en te besin oor wat vir ons regtig vreugde en plesier gee. Ek onthou hoe my Oupa op die plaas in die middae sy koppie koffie op die stoep gesit en drink. As klein seuntjie het ek hom soms so van om die hoek van die stoep dopgehou. Ek kon hoor hoe my Oupa met homself gesels (dit was vir my baie snaaks – dalk die eintlike rede hoekom ek hom dopgehou het). Die laaste bietjie koffie in die koppie het hy dan in die piering gegooi en die koppie omgekeer in die piering geplaas. So het hy dit op die tafel op die stoep gelos sodat die bye dan kon kom drink.

In die gewoel van die stad is dit dikwels moeilik om alleentye vir jouself te skep. Tye waar jy net met jou eie gedagtes kan wees en kan nadink oor waar jy met jouself en die mense in jou lewe staan. Om, soos my Oupa, sommer hardop te dink. Om opnuut elke mens in jou lewe in jou geestesoog te kry en ‘n waardering vir elkeen van daardie mense te ervaar.

Soms is dit eers wanneer ons in die hospitaalbed beland dat ons gedagtes tot stilstand gedwing word sodat ons moet besin. Gee ek genoeg aandag aan my gesin en my gesondheid? Hoe lyk my verhouding met my Skepper en die mense in my lewe? Wat moet ek doen om die wanbalans reg te stel?

Maar om ook geselstye met jou Skepper te skep waar julle kan gesels oor letterlik alles. Jou hart oop te maak. Selfs Jesus het dikwels van die skares mense onttrek om alleentyd saam met Sy Vader deur te bring. Daarna was Hy versterk en is Sy stiltetye dikwels gevolg met wonderwerke wat Hy verrig het.

Met inagneming van al die bogemelde klink dit vir my dat ons soms ‘n onvermoë het om stil te kan raak en regtig te prioritiseer. Mag ons dus geleenthede skep waar ons net na die hoenders se gekekkel, die voëls se gekwetter, die stem van ons geliefdes in die huis en oor die foon, ons gunsteling musiek of na ons hart se gefluister kan luister.