Hoor jou asemhaling

Om asem te haal is so natuurlik as wat jy kan kry. Ons dink nie eens daaroor nie.

Ons raak egter baie gou bewus van ons asemhaling en die behoefte aan voldoende suurstof wanneer –

  • Jy ‘n vrou in natuurlike kraam is (maak nie saak hoe goed jy die asemhalingstegniek in die voorgeboorteklas geleer het nie)
  • Jy besig is om vinnig of ver te loop of hardloop of onfiks is en trappe klim
  • Jy jou boeglam geskrik het
  • Jy te lank onder die water probeer bly
  • Jy probleme met die kapasiteit van jou longe het
  • Jy te vinnig te veel probeer sê

Té dikwels luister ons net na ons uitaseming wanneer ons moeg en moedloos voel. Daardie hoorbare uitaseming maak ons dalk net moeër en moedeloser. Een van die deelnemers aan ons Saterdae Parkrun is ‘n man wat besonder hoorbaar swaar asemhaal wanneer hy hardloop. Sy asemhaling laat jou sommer moeër voel, derhalwe sorg jy dat jy so vinnig moontlik by hom verby draf sodat jy eerder op jou eie ritme en die mooi natuur kan fokus.

‘n Langafstand atleet fokus heelpad op sy ritmiese asemhaling sodat hy deurentyd genoeg suurstof inasem want daarsonder gaan hy gouer moeg word.

Dit is dikwels nodig dat ons ook hoorbaar ‘n diep asemteug gee. Net alleen en stil te wees (verkieslik in die natuur, bad of in die stort) en ‘n paar keer hoorbaar en diep suurstof inasem en weer hoorbaar uit te blaas. Om bewus te wees van jou teenwoordigheid op daardie gegewe oomblik. Die persoon wie jy is. Om weer kontak te maak met jouself en net weer ‘n slag sê: “Ek is nog hier. My naam is … en ek is op aarde met ‘n doel. God het my lief”.

Jesus het ook by verskeie geleenthede van die mense om Hom onttrek om eenkant nie net tyd met Sy Vader te spandeer nie, maar sekerlik ook tyd met Homself. As Hy dit nodig geag het om tyd alleen deur te bring, soveel te meer ek en jy.