Hospitaalstories

Liewe Persoon

Die Juffrou is in die hospitaal. Plat op haar rug, ‘n drup in die arm en ‘n bloedklont in die been. Sy het bed hair, bosse blomme, boksies vol tjoklits en jou waarlik selfs ‘n stresballetjie met ‘n groot geel glimlag op (‘n emoticon, jy sien).  Dié situasie duur nou al vir langer as ‘n week.

In die tyd het die Juffrou reeds twee kamermaats gehad.

Nou verstaan my mooi – ek is een van die mees simpatieke en empatiese mense wat jy ooit sal raakloop. Op troues is ek altyd die eerste een wat snik as die bruid die paadjie afstap. Op begrafnisse treur ek soos ‘n begeesterde Brumilda van Rensburg destyds op Egoli (toe Chris die kat in die donker geknyp het). Ek kan nie eens na Dr Phill kyk sonder om in simpatie saam te snik-snuif nie. Ek is een van daardie mense wat my laaste Rolo met jou sou deel (nota: ek is mos nou ‘n Tipe 1 diabeet en as ek nou my hande op ‘n Rolo sou lê, vreet ek hom op – vinniger as wat jy kan sê: “insulien!”)

Bogenoemde was nodig, want wat ek jou nou gaan vertel sal jou hare laat rys – en jou laat dink dat ek my verlekker in ‘n ander se borrie. Dit is geheel-en-al nie so nie. Ek is, bloot, ‘n fyn waarnemer van die mens en sy dinge. Hiermee ‘n paar van my observasies:

In elke hospitaalsaal is ‘n first timer. Iemand wat óf nog nooit in die hospitaal was nie, óf in haar prille jeug laas die binnekant van ‘n hospitaalsaal gesien het.  Dié pasiënt is die ene smiles – al is sy besig om haar longe voos te hoes. Sy dra splinternuwe pajamas (met ‘n bypassende kamerjas) en pienk pantoffels met hasie-ore.  Sy staan vroegoggend op om haar hare te kam en grimering op te sit. As sy lê, dan doen sy dit so asof sy besig is met ‘n oudisie vir ‘n matras-advertensie: verfris dog effens verslaap. Op-en-wakker dog doodmoeg.

Dan kry jy die hardcore hospitaal aanhangers. Hierdie pasiënt draai elke ses maande in die hospitaal. Toonnaels word uitgetrek. ‘n Verwaarloosde verkoue . Twee verstandtande wat moet uit. Onooglike moesies wat pla (en laerskoolkinders bangmaak). ‘n Lift and tuck spesiaal vir manlief se verjaardag. Die Juffrou se eerste kamermaat is ook ‘n lid van dié klub. Sy dring aan op ander kussings, want tydens haar vorige besoek was die kussings nie so vol knoppe nie. Sy bestel alles op die spyskaart en begin dus elke ete met ‘n bakkie sop. Sy weet presies hoe om – drupstaander en al, pajamas sommer so in die kooi te ruil. Sy ken die matrone op haar voornaam. Sy weet om oorfone in te pak, want dis mos al hoe jy kan televisie kyk in die hospitaal. Haar pantoffels se memory foam ken hul plek – reg vir aksie (veral as dit tyd is vir ‘n dampie maak).

Kuiergaste is ook soms vreemde wesens. Daar is diegene wat letterlik nie weet wat om te sê nie – moet hulle simpatiseer of goeie wense toedig? Hoeveel emosie word dan aan ‘n ingroei toonnael gekoppel? Party pasiënte het op enige gegewe tyd soveel kuiergaste in die kamer dat dit vir ‘n buitestander lyk of daar ‘n nagwaak gehou word. Ander bring hulle kinders saam vir besoektyd – en in minder as ‘n uur se tyd het klein Brandon of Melissa al twee keer op die tannie in Bed 36 se suurstofpyp getrap, bykans al die handseep uitgespuit en met ‘n pen op die wit deken geskryf. Needless to say, die vroue in beddens 35, 36 en 37 is teen dié tyd al reg om huistoe te gaan – desondanks die feit dat daar tussen hulle ‘n knievervanging, ‘n historektomie en ‘n galblaas operasie is.

Besoektyd, oppad na die Juffrou se saal, loer ek na die mense in die ander sale. Party is bleek. Party is naar. Party snork – uiters onvroulik, van die narkose. Die tannie in die pers jurkie waai vir my – ek sien haar so – sy soek ‘n paar vars ore om na haar ongewone mediesegeskiedenis te luister.

Die Juffrou was nog net twee keer in haar lewe in die hospitaal – toe ek en sy ons mangels destyds laat uithaal het – nog daar in Virginia, en so drie jaar terug toe sy haar blindederm vir mediese navorsing geskenk het (grappie!). Siestog. Sy verlang huistoe.

…en ek verlang na haar!

Vorige artikelHoop vir hawelose mense
Volgende artikelJy MAG maar!
Blogger - Annette Willemse
Annette Willemse is ’n oud-joernalis, fotograaf, dosent, korporatiewe kommunikasiespesialis, skrywer, dromer en doener! Skryf is vir my soos ’n pleister vir die siel, soos rooiwyn vir die liefde en soos koeksusters by ’n kerkbasaar. Ek lééf in prentjies en in stories. Gelukkig laat my beroep as Korporatiewe Kommunikasiepraktisyn my toe om myself – elke dag, met woorde te besig. Ek het my voorliefde vir lees en skryf by my ma – ook Annette, gekry. Ons erken maklik dat ons van brood sal leef solank ons net ’n ietsie het om te lees.