Hou die vuur aan die gang

Net toe ek dink ons het ‘n heel aangename winter dié jaar, tref die bibberweer ons die afgelope week. Ek moes skoon my mus loop uitkrap net om my kop ook warm te hou.

Ons het ‘n koue huis en die afgelope week grap ons weer daaroor toe my seun sê dat indien jy warmer wil voel in die huis, moet jy net ons vrieskas se deur oopmaak. Daarteenoor is die huis natuurlik aangenaam koel in die warm somermaande.

Maar dit is mos jou hande wat die ergste koue ervaar wanneer dit so koud is. Tydens my militêre opleiding moes ons telkens gedurende die winter in die veld slaap. Die oggende was my vingers so bewerig en dom van die koue dat ek behoorlik onbeholpe was met die vasmaak van my hemp se knope. ‘n Doodgewone handeling het ‘n uitdaging geword.

As plaaskind was die beste plek om jou hande warm te kry, op die deksel van die swartpot op die koolstoof waarin mieliepap voorberei is. Daar is al van vroegoggend af in die koolstoof vuur gemaak sodat die mieliepap en die dag se kos voorberei kon word. Nadat ons as kinders opgestaan en aangetrek het, is ons dus reguit kombuis en koolstoof toe. Sodra ons hande net eers warm gekry het, kon ons die dag makliker aanpak.

Dit was eers later, nadat ons ‘n elektriese stoof gekry het, dat ek besef het hoe ‘n besonderse taak dit moes wees om die vuur in die koolstoof die hele oggend teen die regte temperatuur te kon hou sodat die kos teen die regte spoed gaar word en dus ook nie aanbrand nie. Daar was nie ‘n temperatuurmeter op die stoof nie. Die persoon wie die vuur aan die gang gehou het, moes derhalwe bloot op grond van haar waarneming en haar hand se gevoel van die hitte besluit of die vuur se hitte op die regte temperatuur was. Ek reken hoe meer ‘n mens die taak verrig het, hoe beter het jy daarin geraak totdat jy later die taak spreekwoordelik met toe oë kon doen.

Ons het ook nie geestelike temperatuurmeters nie, maar die vraag is hoe warm, lou of koud is ons indien iemand wel só ‘n meter in ons monde sou moes hou (Openbaring 3:15).

Soms mag dit voorkom asof ons warm is, maar dit is net vertoon. Dit is net ‘n vertoon vir die oomblik sodat dit vir ander lyk of ek nog goed brand, maar binne weet ek my vuurtjie is stadig besig om te kwyn. By geleentheid sorg ek dat my kole net weer so ‘n vlammetjie of twee maak. Sodat niemand vrae vra nie.

Dikwels is die oorsaak vir die afname in geestelike hitte die feit dat ons effens op ‘n syspoor beland. Soos die kooltjie wat wegrol van die res van die vuur. Kort voor lank raak die afgesonderde kooltjie al flouer want hy het nie meer die hitte van die res om hom aan die gang te hou nie.

Indien ek toelaat dat te veel mense/dinge met my geestelike vuur peuter, gaan my vuurtjie net nie sy volle potensiaal bereik nie. Dalk prioritiseer ons onbewustelik TV kyk, ‘n loopbaan, vriende of stokperdjies bo ons geestelike groei. Selfs oorbetrokkenheid by kerklike aktiwiteite kan tot gevolg hê dat dit later net oor die aktiwiteit gaan en nie oor die geestelike impak en effektiwiteit daarvan nie. Dit is dan nodig om so ‘n tree terug te tree en te herbesin of my geestelike vuurtjie steeds brand en vir die doel waarvoor hy aangesteek is.

Vra maar vir enige persoon wat gaan braai; hy/sy hou nie daarvan dat almal met sy/haar vuur peuter nie. Dit is sy/haar vuur en hy/sy neem verantwoordelikheid vir die vuur en hoe daar gebraai gaan word. Basta!

Soos die koolstoof ons as kinders warm gehou het, is daar ander wat weer van ons geestelike hitte afhanklik is. Hulle het ons liefde, omgee, glimlag, waardering en vriendelikheid nodig om elke dag Christus in die wêreld te ervaar. Om vir hulle hoop in hulle hopelose omstandighede te gee, saam met hulle sterk te staan in geloof, saam te glo dat niks onmoontlik is nie, te troos waar getreur word en bly te wees vir hulle oorwinnings.

Om toe te sien dat ons geestelike hitte konstant en hoog bly, is dit dus nodig dat ons sterk “hout en kole” word deur genoeg en kwaliteit tyd in ons Vader se teenwoordigheid deurbring. Hy wil ons gebruik om die koue in die wêreld te verdryf en daarvoor het Hy “hout en kole” warm “hout en kole” nodig.