Hou jou vel vir altyd gesond

0
146
r.png

Die borrelende TV-aanbieder Liezel van der Westhuizen is ambassadeur van die DMK-skoonheidsreeks. Hoe lyk sy so goed?

Raak aktief vir ’n gloeiende vel

As jy in die kollig is, verwag mense dat jy perfek moet lyk. Ek verwag dit ook van myself. Ek is vanjaar 33. Vandat ek meer sportief en aktief is, kan ek sien dat my vel meer gloei. Ek is baie versigtig om nie buite te oefen tensy ek sonskermroom dra nie. Iets wat my bybly, is dat my ouma en my ma albei baie gesteld was op hulle vel. Hulle het my geleer om my vel op te pas, nie dat ek goed was daarmee nie! Die een ding wat ek egter nog altyd doen, is om sonroom aan te smeer voor ek uit die huis gaan.

Botox is nie die enigste oplossing nie

Botox het die norm geword, selfs vir gewone mense. Ek het dit al oorweeg, maar ek is nog nie gereed nie. Ek beny Charlize Theron haar vleklose skoonheid en sy lyk nie ge-Botox nie. Ek het van die DMK-velsorgreeks gehoor toe ek in New York gekuier het. Toe ek terug was in Suid-Afrika, het ek ontdek dis hier beskikbaar. Wat fantasties is, is dat ek onlangs as DMK-ambassadeur aangewys is. Ek probeer om weekliks hulle ensiembehandeling te kry.

Dié behandeling stimuleer jou gesigspiere en help jou vel om ten beste te funksioneer. Jou porieë word gereinig, jou vel word ontgif en daarna met vitamien C en ’n vogsproei gevoed. As jy die behandeling doen, vóél jy hoe jou vel verferm. Dis lekker om my vel verfris te hê, veral omdat ek gedurig in die son is met sport.

Elke vrou het iets waaroor sy onseker voel. Myne is dat my vel rooierig lyk. Dis een van die eerste dinge wat ek met my DMK-terapeut bespreek het en sedert ek die reeks gebruik, het dit verander.

Jy kan nuwe voete kry in net een behandeling

’n Ander behandeling waarsonder ek nie kan klaarkom nie, is die MediPedi. Al kry my vel ’n blaaskans wanneer ek nie op stel is nie, is my voete altyd blootgestel. Ek loop kaalvoet op die strand en selfs in Kaapstad. Ek is op my fiets. Ek draf. Dan begin ’n mens se voetsole rof lyk. Ná een van die behandelings by ’n DMK-salon is jou gebarste hakskene en growwe voete vergete. Hulle gebruik glad nie lemme of onaangename skuurmetodes nie, maar bloot ’n alkaliese aansmeermiddel wat jou vel versag en bakterieë doodmaak. Dit is die gesondste behandeling wat werk om my voete te herstel.

Geskryf deur Ryno Mulder