Hou op baklei oor elkeen se huistake

0
305
huistake.jpg

Hou jy en jou man boek van elkeen se huistake en ontaard dit dan later in ’n rusie? Kry só vrede in die huis.

Besluit wie is waarvoor verantwoordelik

Dit help as sekere take vooraf aan ’n persoon toegewys word, maar dit hoef nie altyd slaafs nagevolg te word nie. Julle gaan heel waarskynlik nie aan alles dink wat in die huis en vir die kinders gedoen moet word wanneer julle take verdeel nie, veral dinge wat net nou en dan of onverwags opduik. Wees bereid om in te spring of dit nou jou taak is of nie. As goed vir jou te veel raak, vra die kinders of jou man reguit om te help. Hulle vang nie skimpe nie.

Moenie wag tot jy gevra word nie

Miskien is jy van nature nie iemand wat besonder gesteld is op netheid nie. Dit is vir jou belangriker om saam met die kinders te verf as om ’n silwerskoon huis te hê. Jou man kan moontlik anders daaroor voel. Wees bewus van goed wat hom irriteer en doen moeite om te sorg dat die huis skoon is wanneer jy en die kinders klaar gespeel het. ’n Verhouding gaan immers oor gee en neem. Vermy onnodige spanning en doen daardie één ding wat vir hom belangrik is voor dit konflik veroorsaak.

Ruil nou en dan take om en waardeer mekaar

Dit is maklik om Manlief te kritiseer as hy volgens jou nie die gras gereeld genoeg sny nie, maar weet jy hoe uitputtend dit is? Gaan doen jy dit gerus op ’n warm Saterdagoggend. Miskien sal jy dan meer simpatie met hom hê. En as hy dink dit is maklik om elke aand na werk voor die kospotte te staan, gaan hy heel moontlik anders dink wanneer hý dit ’n slag moet doen. Deur take elke nou en dan om te ruil, sal julle help om meer waardering vir mekaar se bydraes te kry.

Praat as jy ongelukkig en gefrustreerd is

Dit help nie jy werk jouself op oor dinge wat jou maat doen of nie doen nie. En hoe langer jy stilbly, hoe groter gaan jou frustrasie word. As jy voel jou maat bring nie sy kant nie, sê dit met liefde vir hom. Wees ook versigtig dat jou woorde nie met jou dade bots nie. Jy kla dalk dat jou maat nie genoeg help nie, maar dan kritiseer jy hom as hy wel iets doen en hy dit nie doen soos jy wil hê hy moet nie. Dit kan baie frustrasie vir julle albei veroorsaak.

Gun mekaar tyd om alleen te wees

Die lewe is nie net werk, werk en werk nie. Gee mekaar tyd om ander belangstellings te ontwikkel. Tyd om alleen te bad, te lees, naaldwerk te doen, gholf te speel, rugby te kyk… Dit is alles dinge wat jou laat ontspan en krag gee om ’n beter maat te wees. Moet net nie selfsugtig met jou alleentyd raak nie. As jy vir ’n halfuur wil bad, moenie drie uur lank in die bad bly lê nie. Hou mekaar in gedagte en maak seker dat dit nie net een maat is wat sy of haar alleentyd opeis nie.

Vergeet van tradisionele manlike en vroulike rolle

Die verdeling van take in die huishouding val nog baie binne die tradisionele verdeling van pligte. Vroue kla dikwels dat daar van hulle verwag word om te kook en naaldwerk te doen, maar vroue verwag dikwels van hulle mans om hulle lyf loodgieter of elektrisiën te hou. Wees versigtig vir dubbele standaarde. Miskien haat jou man tuinwerk, maar dit is vir hom heerlik om te kook. Smul gerus aan jou man se kos, en gebruik dan die geld wat julle aan uiteet sou spandeer om vir ’n tuindiens te betaal.

Doen soveel moontlik take saam

Harde werk kom baie gouer klaar as julle dit saam doen. Kry ’n manier om ’n bietjie pret in julle werkstyd in te bring. Gesels terwyl julle werk of sit lekker musiek op. Almal het verpligtinge wat nie noodwendig lekker is om te doen nie. Julle kan egter kies of julle heeltyd daaroor wil baklei. Maak eerder vrede met die feit dat huiswerk deel is van die lewe. Aanvaar verantwoordelikheid deur jou deel van die werk te doen en gesels rustig met jou maat as jy voel hy doen nie sy deel nie.

Verwerk en vertaal na aanleiding van ’n artikel The Chore War uit Modern Marriage.

Lees ook: Baklei minder, vry meer