Hou op eet om jouself te troos!

0
51
ooreet.jpg

Soek jy ’n vinnige troos wanneer jy hartseer is? Soos sjokolade. Daar is ’n oplossing wat beter werk!

Jy kom pootuit by die huis. Dit voel asof jy die hele wêreld se laste op jou skouers dra. Vanoggend, toe jy gedink het die werk is klaar, kom plak die baas ’n nuwe stapel papiere op jou lessenaar neer. En deel van die werk was volgens hom nie reg nie. Jy moes dit oor doen.

Jy pyl reguit op die yskas af. Wat jy nóú nodig het, is ’n groot sny koek. Dan sak jy op die naaste kombuisstoel neer en trek die koek met mening nader. H’m, is die roomversiersel nie hemels nie?

Nadat jy ’n groot sny verorber het, voel jy naar en sommer kwaad vir jouself. Hoe kón jy jou so vergryp?

Dis seker elke vrou se storie dié. Die oomblik wat jy ongelukkig voel, draai jy na kos of Facebook om jou te troos. Dit maak jou egter net vir ’n klein rukkie gelukkig.

Probeer eerder uitvind watter probleem jy wil ignoreer

Jy tob gereeld oor iets wat jou lewe versuur, maar jy is nie bereid om dit aan jouself te erken nie. Jy wil ook nie daaroor praat nie. Nou probeer jy om allerhande kitsoplossings te kry om jou weer mens te laat voel.

Dis amper soos om op ’n duimdrukker te staan wat jou voet seermaak en pynpille te drink vir die seer. Jy los nie die probleem op nie; jy probeer net die pyn verdoof sodat jy daarmee kan saamleef. Al wat gebeur, is dat dit later soos ’n sweer is wat op die onmoontlikste tyd oopbars.

Jy het miskien al tot vervelens toe gehoor dat jy met God oor jou probleme moet praat. En dis waar, maar Hy is nie ’n noodwiel nie. Dit help nie om Hom andersins te ignoreer en net hulp te vra as jy skielik ’n probleem het nie.

Hy wil ’n verhouding met jou hê. Hy stel nie belang in ’n gebedsrympie met mooi woorde wat jy versigtig kies nie. Wees net jouself.

Lees ook: Negatiewe denke versmoor jou geloof

Jy hoor jou hart as dit stil is

Jy weet wat gebeur as jy iewers in ’n tuin gaan sit. Aanvanklik lyk dit asof daar nie regtig lewe is nie, maar as jy geduld gebruik en baie stil sit, kom daar allerhande diertjies te voorskyn.

Jy is dalk gelukkig genoeg om ’n eekhorinkie te sien. Of ’n muis wat onder die blare rondskarrel. Verskillende soorte voëls kom naby jou sit en pik-pik aan ’n vrug of saadjies. Jy hoor die bye zoem.

Hierdie dinge sien jy nooit met die eerste oogopslag raak nie. Dit neem ’n paar minute van stilsit en stilwees voor jy iets sien beweeg. Sodra jy ’n geluid maak, verdwyn alles weer.

Net so is dit ook met jou hart. Jou besige en raserige lewe kan veroorsaak dat jy nie regtig agterkom wat jou pla nie. Jy weet iets skort, maar jy onderdruk dit, want daar is te veel dinge om te doen. Dis eers wanneer jy regtig tot rus kom dat dit in jou gedagtes begin gestalte kry.

Jy begin erken: Ek kan nie glo sy het van my geskinder nie. Wat sy gesê het, het my regtig seergemaak. Of: Die middagete saam met ou kennisse was glad nie lekker nie. Almal het gespog oor wat hulle alles al bereik het. Ek het jaloers gevoel.

Nou eers kan jy jou probleme in woorde omsit en vir God gee.

Kom gereeld vir ’n rukkie tot stilstand

As jy iemand is wat altyd besig is en honderd goed tegelyk probeer doen, sal dit vir jou moeilik wees om hierdie raad te volg.

Om dit dus makliker te maak, besluit op ’n tyd wat jy elke dag êrens op ’n rustige plek kan gaan sit. Maak seker dat daar geen onderbrekings sal wees nie. Jy mag natuurlik nie multitask nie – dis nie nou die tyd om gou jou inkopielysie op te stel nie.

Terwyl jy so sit, raak bewus van God en dat jy vir Hom kosbaar is. Hy geniet hierdie tydjie wat jy afknyp. Hy weet reeds wat jou pla, so, jy kan dit maar gerus laat uitborrel, op watter manier ook al.

God het baie geduld met jou. Hy het jou gemaak en Hy weet hoe jou kop werk. Hy gee nie om dat jy ’n quick fix soek nie. Hy wil net weet hoekom jy een nodig het.

Vertaal en verwerk uit Quick fixes, prayer and learning to be still van Sherry Suratt.