hou op karring, ek wil mooi wees!

0
20
anoreksia.jpg

Teen hierdie tyd was my ouers al raadop. Hulle moes kyk hoe hul enigste dogter wegkwyn voor hulle oë.  Ek het geweier om iemand te gaan sien, want volgens my was daar niks fout met my nie. Dit moes hul seker so seergemaak het, want ook moes hulle die fout by hulself gaan soek … en eintlik was hulle die laaste mense om te blameer. Maar ek het nooit met hulle gepraat oor my redes nie – tot vandag toe nog steeds nie.

My ma het baie gehuil en gesmeek dat ek moet regkom. My pa se manier (seker maar soos enigiemand wat nie weet hoe om die situasie te hanteer nie) was om my te probeer dwing om te eet of self net meer te eet. “Jy sal nou eet” en “Ons sal jou regruk” was woorde wat ek baie gehoor het.  

Tot vandag toe is daardie woord, SAL, soos om ʼn rooi lap voor ʼn bul te hou. Ek SAL regtig niks … inteendeel as jy vir my sê ek SAL, sal ek juis nie. Dit is ook die houding waarmee ek my pa se stellings en my ma se trane benader het. Dit het vir my gevoel asof ek in ʼn hoek vasgekeer is. Soos ʼn wilde dier wat moes uit! Hoekom wil hulle my dwing om te eet en vet te word? Is hulle dan nie lief vir my nie? Wil hulle nie hê ander mense moet van my hou nie?

Kan hulle nie sien ek werk so hard om maer te wees en dat dit my gelukkig maak nie? Daar het ek besluit, ek sal hulle wys – ek sal hulle van my case af kry maar steeds die gewig wat ek wil verloor afskud.   Lees Maandag verder …

Vir vorige blogs, kliek hier.