Hou op om jou met ander te vergelyk

161

Ons vergelyk onsself gedurig met ander. Sosiale media het hierdie lokval in ’n groot put verander – ’n put wat 24–uur van die dag mense insluk!

Sedert sosiale media soos ’n veldbrand in ons lewens versprei het, het die selfdoodsyfer wêreldwyd ook drasties toegeneem. Dit het ’n platform geword om die skaal van die lewe in jou guns te kantel. Al wat ons sien, is die benydenswaardige kant van ander, terwyl ons eintlik weet daar is ook ’n donker kant.

Jy gaan ongelukkig bly as jy jou met ander vergelyk

Jou kollega hou vakansie in Mauritius. Die stralende paartjie se troue lyk soos iets uit ’n sprokie! Jou beste vriendin kry ’n nuwe kar … Wanneer ’n mens sien hoe ander hulle sukses leef, gebeur dit maklik dat jy begin dink: “Maar ek is nie so gelukkig nie. Dit gaan nie só goed met my nie …” Skielik vra jy vrae oor jou lewe en hoe jy eintlik behoort te leef.

Sosiale media het sy voordele. Daar is duisende interessante artikels en studiemateriaal deur kenners beskikbaar. Mense bring hoop en deel hulle inspirasie-stories. Dit is alles deel van die lokval en soveel val in die strik. Voor jy jou oë kan uitvee is ’n uur van jou tyd weg terwyl jy van een storie na ’n ander spring op Facebook. Iewers moet elkeen van ons beheer van jou eie lewe en jou tyd neem!

’n Gesprek met een van my mentors het my laat besef dat ek beheer van my eie lewe moet neem. Ander mense kan nie my eiewaarde bepaal nie. Dit is die vinnigste manier om op die ashoop van mismoedigheid te beland.

Wees die meester van jou skip, en leef vry

Jy moet die lewe vier op die skip waarop jy seil. Ander mense het hulle eie skip en stormwaters waarop hulle seil. Fokus op jou eie lewe. Droom jou eie drome – soek jou eie eilande. Dis jóú reis.

Sou dit nie wonderlik wees om al die energie wat deur die vergelykingspeletjie vermors word, te gebruik om jou eie lewe te leef nie? Dis soos ’n siekte – om deurentyd ander dop te hou en uiteindelik maak dat jy dinge koop wat jy nie nodig het nie.

Maak jouself los daarvan – span jou eie seile en leef die avontuur van jou eie lewe. Natuurlik spandeer ’n mens tyd met vriende wat vir ’n oomblik hulle skip langs joune anker, en dis lekker en nodig – maar daarna moet elkeen weer op sy eie roete vaar.

Jy word wat jy dink oor jouself en die wêreld

As jy nie ’n wag voor die deur van jou hart sit nie, gaan die vyand jou hart soos ’n virus binnedring. Hy vernietig alles daar binne – hy maak hom stadig en swak. ’n Antivirusprogram hou die binnewerke van die rekenaar veilig. Net so, moet jy jou hart beskerm deur jou gedagtes te filter.

Te veel mense leef ander se drome. Unieke drome word laat staan omdat ons vasgevang is in die sosiale mediaweb van materialisme wat roep: “Kom sit hier by my, word deel van my wêreld.”

Ek het gekies om nie deel van daardie wêreld te word nie. Ek weet wie ek is. My identiteit lê in my Skepper.

Ek daag jou uit om los te kom uit hierdie strik. Skep jou eie kosbare oomblikke. Moeder Teresa het gesê: “If you are humble nothing will touch you, neither praise nor disgrace, because you know what you are.”

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.