Hou op om oor alles bang te wees

0
242
Marguerite_Wheatley.jpg

Elke vrou in Suid-Afrika ken vrees goed. Marguerite Wheatley vertel hoe sy háár vrees oorkom het.

Was daar ooit ’n tyd dat jy ’n bang dogtertjie was?

Omdat ek ’n saggeaarde persoon is, was ek altyd bang dat ek nie so sterk soos Joan of Arc sou wees nie. Die wêreld verwag dat vroue so sterk soos staal moet wees en nooit hulle swakheid mag wys nie. Enige vrou wat ’n besigheid bestuur, broodwinner moet wees of alleen na die huishouding moet omsien, weet hoe moeilik dit is. Maar dis in die verlede. Ek is nou Marguerite, net soos ek gemaak is.

Hoe dink jy het dit jou lewe en emosionele welstand benadeel?

Dit was soms so erg dat ek nie in ’n kar wou klim nie. Ek was bang ek beland in ’n ongeluk en kry seer! Ek was ook skugter vir onbekende mense omdat ek bang was vir verwerping. Ek het vrees toegelaat om ’n houvas op my te kry. En hoe meer ’n mens dit in jou hart openbaar hoe meer borrel dit in jou woorde en optrede uit. En hoe meer vreesaanjaend raak alles om jou.

Het jy ’n manier gevind om vrees hok te slaan en om berusting te vind?

Ja, Sy Naam is Jesus Christus. Kyk, ek is ’n gewone mens, en ek moet myself daaraan herinner dat as Sy wese ek uitsonderlik is. En dat daar geen vrees is in oomblikke saam met Hom nie. Daar is drie dinge wat my die meeste gehelp het om vrees en onsekerhede te oorkom. Dis ’n eenvoudige strategie: Gaan kerk toe, lees (die Bybel, boeke oor jou verhouding met Hom en ander mense) en mediteer en bid.

Het jy die skuif na die VSA gemaak deels omdat Suid-Afrika jou angstig gemaak het?

Nee wat. Dit is lekker om te weet jy kan saans hier in Los Angeles gaan stap of negeuur in die aand alleen gaan draf. Of jou kar in die straat parkeer en soms sluit ek dit nie eers nie. Jy kan geld trek of bank toe gaan sonder enige bekommernis. Maar ek sal en ek gaan eendag terugkom Suid-Afrika toe. My land het baie om te bied. Ek wil dit nie misloop nie.

Wat is jou boodskap aan Suid-Afrikaanse vroue wat daagliks in vrees leef?

’n Mens kry wel gesonde vrees, soos vrees vir jou fisiese veiligheid. Luister na daardie vrees. Maar vrees oor jouself, wie jy is of nie is nie of vrees vir die noodlot is onnodig. God het jou so uniek aanmekaar gesit en Sy lewe in jou ingeblaas. Hoekom sal Hy wil hê jy moet gedurig bang wees? My boodskap is dié van die Evangelies. Elke dag wat ek dit lees, sien ek ’n nuwe boodskap perfek om vir my berusting te bring.