Hou op uitstel en kry alles gedoen!

0
56
uitstel.jpg

Jy moet rekeninge gaan betaal, maar dit kan wag tot môre. Kort voor lank is jou betalings egter laat en is jy in die moeilikheid. Wat kan jy doen om op te hou uitstel?

Jy het jou voorgeneem om van Maandag af al die take te begin doen wat jy al so lank vermy. Maandag skuif jy die lisensie wat hernu moet word, net weer tot heel onder op jou lysie. Jy wil tog nie jou dag nog blouer maak en met ’n slegte ding begin nie. Daarna bel jy jou vriendin bel en te verneem hoe haar naweek was. Enigiets om nie daardie vervelige vorm in te vul nie ...

Ons het met ons lesers gesels en uitgevind die meeste vroue is geneig om uit te stel, maar om verskillende redes. Hier is die algemeenste redes en ook hoe jy moet maak om alles gedoen te kry.

# 1: Beplan minder en doen eerder meer

Dis goed om te beplan as jy iets wil bereik. Tog, as jy te veel daaroor tob, het dit die teenoorgestelde uitwerking. Jy sien dan op daarteen en raak negatief. Die maklike taak word later ’n moeilike een en die moeilike een word onoorkomelik. Dis soos die spreekwoordelike berg wat voor jou lê, maar wat jy eenvoudig moet uitklim. Die beste manier om bo uit te kom? Begin klim – tree vir tree.

Onthou, die perfekte plan bestaan nie. Daar is altyd ’n moontlikheid dat jy probleme langs die pad gaan hê. Jy weet mos wat jy wil doen: Hou net op dink en doen dit, maak nie saak hoe jy voel en of jy dink dis nou die regte tyd nie.

# 2: Gee die eerste tree, nóú

Dis goed om aan die toekoms te dink, maar dan moet jy jouself weer terugbring na die hede. Fokus daarop om die eerste tree te gee – vandag nog! As jy eers begin het, is die res makliker. Hoe sê die spreekwoord? Goed begonne is half gewonne!

Stel jouself positief in vir wat voorlê. Jy sal in elk geval nooit die hele pad voor jou kan sien nie omdat dit aanhoudend verander soos jy vorder. Jy kan die beste planne hê en tog daar sal altyd iets wees wat nie presies sal uitwerk soos jy dit sou wou hê nie. Onthou, jou idees is nie altyd in voeling met die werklikheid nie. Sit die een voet voor die ander en hou aan beweeg; jy sal wel momentum kry en al vinniger gaan.

[pagebreak]

# 3: Begin altyd met die moeilikste take

Jy het dalk ’n horde dokumente om te liasseer en dit druk swaar op jou skouers.

Omdat jy dit met ’n passie haat, ignoreer jy dit elke dag en kom dan nooit daarby uit nie, tot jy later na papiere begin soek wat lankal in ’n lêer moes gewees het.

Begin elke dag met die slegste of moeilikste take waarteen jy die meeste opsien, anders bly dit die hele tyd aan jou knaag. Die maklike takies sal dan sommer vanself gedoen kom! Hierdie een klein verandering kan ’n groot invloed op jou lewe hê. Jou dag sal baie lekkerder en vroliker wees as jy die slegste goed eerste uit die weg ruim. Jy sal verlig en ontspanne wees en goed voel oor wat jy kon vermag.

# 4: Neem ’n besluit – enige besluit

Dis onnatuurlik om hande gevou te sit en niks te doen nie. Ja, jy weet teen hierdie tyd jy moet aanhoudend vir jouself positiewe dinge in jou gedagtes sê, maar dit sal niks help as jy nie ook iets doen nie.

Wat jy doen, stuur ’n boodskap na jouself oor wie jy is. Die besluite en aksies wat by jou oortuigings pas, bou jou selfvertroue. As jy besluiteloos is, stuur dit aan jou brein die boodskap dat jy eintlik onbevoeg is om jou lewe te bestuur. Jy móét ’n keuse maak. Al is dit die verkeerde een, wen jy uiteindelik meer as wat jy verloor.

# 5: Raak ’n bietjie meer waaghalsig

As jy nooit uit jou gemaksone kom nie, sal jy moontlik veilig en redelik suksesvol kan wees, maar jy sal jouself dalk eendag verwyt oor sekere goed wat jy toe nooit gedoen het nie. Jy sal altyd wonder wat kon gebeur het as jy net dapper genoeg was om die onbekende pad te kies.

Probeer om ’n bietjie te waag. Begin met iets kleins, soos om jou hare in ’n ander styl te laat sny. Doen ’n slag iets anders en leef!

# 6: Maak klaar waarmee jy begin het

Die meeste vroue ervaar stres, nie omdat hulle te veel het om te doen nie, maar omdat hulle nie klaarmaak waarmee hulle begin het nie. Dink ’n bietjie aan alles waarmee jy op die oomblik besig is. Is daar dalk iets wat jy glo jy al lankal kon afgehandel het? Probeer dan om dit so gou moontlik te doen – jy sal sommer stukke beter voel en meer energie hê vir al die ander goed wat nog wag.
Aan die ander kant is daar geen wet wat sê jy móét alles klaarmaak waarmee jy begin nie. As jy begin het om ’n boek te lees wat jou glad nie interesseer nie, los dit. Die lewe is veels te kort om jou tyd so te mors. Moet dit egter nie as ’n verskoning gebruik om jou uit moeilike of onaangename projekte te wikkel nie.