Huweliksmaats of huismaats?

gretha_wiid.jpg

Na ’n klompie jare se getroude lewe kan dit maklik voel of jy jou sielsmaat vir ’n huismaat verruil het.

Na ’n klompie jare se getroude lewe kan dit maklik voel of jy jou sielsmaat vir ’n huismaat verruil het.

Deur al die jare waarin ons al huwelikskampe aanbied, het ek en my man gesien hoe maklik ’n huwelik by ’n doodloopstraat kan kom. Dit is dikwels as gevolg van groter “goggas” soos leuens, drankmisbruik, mishandeling, owerspel en so meer. Maar dis baie hartseerder om te sien dat baie meer huwelike stadig doodbloei omdat huweliksmaats, soms sonder dat hulle dit besef, hulle konneksie met mekaar verloor het. Dis soos iets wat stadig op jou afsluip en jou op ’n dag vang. Ek praat nie van paartjies wat heeldag baklei en byna nooit meer seks het nie. Ek praat van getroudes wat op die oog af gelukkig is sonder te veel issues – vasgevang in die dodelike roetine van hulle liefde, maar met ’n missing link.

Hierdie stukkie waarheid het my hart geroer: If you are not connecting on a daily basis with your spouse, you are exchanging a SOULmate for a ROOMmate. Ons is soms so besig om besig te wees dat ons huwelik heel laaste op lysie van belangrike dinge beland. Ons float, ons oorleef en probeer om al die balle in die lug te hou. En nee, niemand het ’n huwelik waar hulle mekaar elke dag van opwinding omspring en mekaar se klere van hulle lywe afskeur nie. Maar wat jy vandag moet besef, is dat indien hierdie gefloat te lank aanhou, dit maklik gebeur dat julle by ’n koue en dooie plek uitkom – lief, maar nie noodwendig meer lus nie.

Wat is jou grootste prioriteit?

Hoe gebeur dit dat so baie mense net huismaats word? Want ons vroue maak die kinders dikwels ons grootste prioriteit, en ons mans moet tevrede wees met dit wat aan die einde van ’n lang dag oor is. Ons verloor ons vonk – ons verander van ’n aanvanklik gretige lover in ’n heel oninteressante mother.

Ons beplan vir alles, van kosblikke en doktersbesoeke tot rommelverwydering en die kar se diens, maar sukkel om tyd in te ruim vir ons mans. Ons spandeer te veel tyd daaraan om met ander mense te gesels of op sosiale media uit te vind wat in hulle lewens aangaan, en heeltemal te min tyd aan ons maats. Ons doen nie meer moeite om onsself mooi te maak en goed te laat voel nie. Ons praat oor aktuele dinge van die dag, maar nie genoeg oor hartsdinge nie.

Ons sê te maklik ja vir dinge buite ons huwelik – of dit nou is om ’n vriendin te help wat in die nood is of die skool se braai-aand vir ouers te ondersteun – en het dan honderde verskonings oor hoekom ons nie tyd het vir die dinge bínne ons huwelik nie. Ons lei aan uitstelsiekte, want ons dink ons sal môre beter vaar.

Ons aanvaar ons huwelik as vanselfsprekend en besef nie dat as ons nie vandag aan ons konneksie werk nie, daar moontlik niks meer gaan oorbly om mee te konnekteer as die kinders uiteindelik die nes verlaat nie.

Soos jy sien, verg dit gefokusde tyd, beter prioritisering, duideliker grense en ’n goeie stuk van ons harte om huweliksmaats te bly.

Roetine blus die vonk van jou huwelik

Begin by ’n eerlike evaluering: Voel ek nog die vonk? Is my huwelik in roetine vasgevang? Wanneer laas het ons saam gelag (net ons twee)? Weet ek regtig wat in my maat se hart en lewe aangaan? Hoe gereeld doen ons dinge sonder mekaar? Wanneer laas was ons alleen uit op ’n afspraak? Hoeveel het ons om vir mekaar te sê as ons wel alleen is? Die antwoorde moet jou klaar laat besef waar jou huwelik trek – huismaat of huweliksmaat?

Gaan maak nou ’n lysie van die dinge wat jou huwelik se tyd steel – kinders, TV, selfoon, stokperdjies en so meer.

Skryf drie realistiese dinge neer wat jy kan verander om meer tyd vir jou huwelik te maak. Hoe meer prakties jou lysie, hoe makliker kan jy dit uitvoer.

Doen vir die volgende week elke dag iets wat jy lanklaas gedoen het vir hom en mét hom – ’n vurige soen wanneer jy nagsê in plaas van die dodelike “Nag, Pappa” (help ons!), ’n yskoue drankie wat jy saam met hom geniet in plaas van die verskoning dat jy nie tyd het om by hom te sit nie, ’n Post-it-nota op sy motor se stuurwiel met ’n boodskappie vir die dag, ’n date night waar jy reeds ’n oppasser vir die kinders gereël het – die lys is lank. Met ’n besige program sal jy dit dalk moet neerskryf en vooruit beplan en nie staatmaak op ’n kreatiewe gier op die ingewing van die oomblik nie.

Doen ’n slag moeite met jouself – van jou onderklere en beenhare tot jou lipstiffie en parfuum. Vra uit oor sy dag, al is dit terwyl hy voor sy rekenaar sit, en maak tyd om regtig te luister.

Onthou dat al hierdie idees nou wel jou huwelik ’n hupstoot kan gee, maar die blywende gevoel van huweliksmaats is iets waaraan ons elke dag van die jaar moet werk. Dooie gras kan miskien lewe kry met ’n goeie dosis kunsmis, maar om dit elke dag nat te maak verseker ’n grasperk waarop ons kan speel en mekaar kan liefhê! God kan ’n hart van klip vervang met ’n hart van vlees. Hy kan dooie beendere tot iets nuuts laat groei.

Kies om elke dag met jou maat te connect. Lag saam, huil saam, eet saam, gaan slaap saam en bid saam. Dis die geheim vir ’n wonderlike sielskonneksie met jou maat – vandag.