Hy het die wêreld reeds oorwin

Ek het altyd gewonder of ek ook daardie één vers in die Bybel sal kry wat ek my gunsteling kan noem.

Almal het altyd ‘n gunsteling vers gehad, behalwe ek. En toe, toe lees ek Johannes 16:33 raak en daar word dit nie net my ‘gunsteling’ vers nie, dit word ‘n vers wat my elke dag bemoedig.

Wanneer ek sien hoe swaar die wêreld kry as gevolg van mense, en hoe sonde baie maal die oorhand kry, dan dink ek aan hierdie vers.

“Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Jesus het ons kom voorberei op hoe swaar ons in hierdie wêreld gaan kry. God het geweet hoe menslike keuses hierdie wêreld gaan beïnvloed en dat ons nie altyd die mooi en liefde (waarmee Hy die aarde geskep het) gaan beleef nie. Maar in dieselfde sin stel Hy ons gerus deur te sê dat Hy reeds die wêreld oorwin het.

Waar ons nou Paastyd gevier het, kom wys hierdie vers in Johannes vir ons hoekom Jesus mens kom word het. Hy het tussen mense kom woon en dieselfde swaarkry kom beleef, met net een doel voor oë – Hy het die wêreld kom oorwin. Hy het uit liefde gesterf, maar Hy het weer opgestaan en die dood oorwin. HY LEEF!

Ons Here Jesus leef vandag, maak jou hart vir Hom oop en laat Hom deur jou leef. Mag Hy jou as instrument gebruik om daardie spesiale liefde, wat Hy vir elkeen op aarde het, deur jou aan die wêreld te openbaar.

Seënwense!

Stephanie